23
NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE KWARTAAL 2019 DIE BOEK: GENESIS Saamgestel deur: Ds Cobus Niemand Ds Albert Horn

NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

  • Upload
    others

  • View
    2

  • Download
    0

Embed Size (px)

Citation preview

Page 1: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER

BYBELSTUDIE

EERSTE KWARTAAL 2019

DIE BOEK: GENESIS

Saamgestel deur:

Ds Cobus Niemand

Ds Albert Horn

Page 2: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

2

BYBELSTUDIES 2019 EERSTE KWARTAAL – Genesis

Inleiding: Genesis beteken: Oorsprong/begin. Die hele boek behandel oorspronge (“Beginnings”). Die oorsprong van:

...die wêreld (skepping),

...die mens en sonde,

...God se volk. ‘n Kort uiteensetting van Genesis soos ons dit in die Bybelstudies gaan hanteer:

Gen. 1:1-2:25 – Die Skepper en sy skepping

Gen. 3:1-8:22 – Die sondeval en die gevolge daarvan

Gen. 9:1-11:26 – Van Noag tot die toring van Babel

Gen. 12:1-25:18 – Abraham

Gen. 25:19-36:43 – Isak, Jakob en Esau

Gen. 37:1-45:28 – Josef en sy broers

Gen. 46:1-50:26 – Jakob en sy nageslag in Egipte Genesis begin met ‘n aantal verhale (Gen. 1-11) waaruit dit duidelik moet word hoe die wêreld en die mense daaruit gesien het voordat Abraham op die toneel gekom het. Die eintlike verhaal van Genesis begin by Abraham. Dit is belangrik om nie by die lees van hierdie verhale in allerlei onnodige strikvrae vas te haak nie. Ons het hier met verhalende literatuur te doen, wat nie voorgee om geskiedenis te skryf nie, maar wat wel ‘n spesifieke boodskap wil oordra...

Die mens was afvallig, maar God het steeds gewerk;

Die mens was ongehoorsaam, maar God het getrou gebly;

Mense het God verwerp, maar God bly hulle voortdurend opsoek;

Toe die mens op sy diepste geval het, begin God oor met Abraham.

Die boodskap is belangriker as die vraag of alles presies gebeur het soos dit hier staan. Gen. 1-11 is daarom slegs die inleiding tot die hele Bybel: Ons lees wie en wat mense is (sondaars wat verlossing nodig het; alle

Page 3: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

3

mense lyk so en is steeds so). Maar God is ook soos Hy geteken word: altyd bereid om weer te vergewe en altyd bereid om weer die mense op te soek en met hulle ‘n ooreenkoms aan te gaan... Belangrik: Ons vra dat elkeen wat die Bybelstudie oor Genesis by die Bybelstudiegroepe en Selgroepe gaan doen, asseblief vooraf die verskillende hoofstukke in Genesis sal deurlees en aantekeninge maak. Dit gaan nie moontlik wees om alles tydens ons byeenkomste te lees nie. Ons wil julle ook aanmoedig om, indien jy toegang daartoe het, nog weier te gaan lees (bv. Bybel in Praktyk, Bybel met verklarende aantekeninge, boeke oor Genesis...). Baie welkom by ons gemeente se Bybelstudie oor Genesis. Mag die Here jou ook deur hierdie studie verryk en seën. Ds. Cobus en Ds. Albert

Page 4: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

4

BYBELSTUDIES 2019 EERSTE KWARTAAL – Genesis

Week 1 (29, 30 Jan.) Die Skepper en sy skepping

Skriflesing: Gen. 1:1-2:25 (vgl. Ps. 8; Job. 38:1-39:33; Op. 21:22-22:5) 1.1 Inleiding: Gen. 1-11 (die eerste drie Bybelstudies) kan as volg uiteengesit word: A Gen. 1-2: Die mens word goed geskep B Gen. 3: Die mens word ongehoorsaam en word gestraf C Gen. 4: Die mens se sonde word meer en hulle word weer gestraf D Gen. 5-9: Mense word meer, hulle sonde word meer, hulle word weer ‘n keer gestraf c Gen. 10: Die mense word meer b Gen. 11:1-9... Die mense is ongehoorsaam en word gestraf a Gen. 11:10-32... God begin weer heel voor. 1.2 Aantekeninge: In Gen. 1 en 2 het ons met twee skeppingsverhale te doen. Verhale oor die skepping het by al die volke rondom Israel bestaan (Assiriërs, Arameërs, Babiloniërs, Fenisiërs...). Al hierdie volke het geglo dat daar aan die begin net ‘n groot watermassa bestaan het en dat dit pikdonker was. Hulle het ook geglo dat die gode die aarde en die lug daarbo uit die watermassa gemaak het. Daar is dus groot ooreenkomste met buite Bybelse bronne. Maar tog ook belangrike verskille. Vir die ander volkere was die watermassa ‘n god, en so ook die son, maan en sterre. Ons bely dat God alleen God is, en dat Hy alles geskep het. Daarom behoort alles aan Hom. Tussen Gen. 1 en 2 se verhale is daar ook verskille: Gen.1 Gen. 2 Aarde groot watermassa Aarde droog Lig eerste geskep en die Die mens is voor alles geskep mens laaste God het man en vrou geskep Die man is eers geskep, later die vrou God maak baie mense God maak een man en een vrou Hele aarde word geskep Konsentreer op skepping van mens, plant en diereryk.

Page 5: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

5

Gen. 1 en 2 wil nie vir ons vertel hóé alles gebeur het nie. Ons weet nie. Die verhaal wil eerder vir ons sê Wie God is en wie en wat ons behoort te wees... Daarom: Die Bybel is nie ‘n wetenskaplike handboek oor die ontstaan van die mensheid of oor die geskiedenis van die mensdom nie. Gen 2 is die ouer verhaal en het in Palestina ontstaan (waarskynlik 1100 - 800v.C.) Gen. 1 is heelwat later in Babilonië geskryf (waarskynlik in die sewende eeu v.C.). Die Bybel in Praktyk wys daarop dat die mondelinge verhale ongeveer 1250 v.C. (die tyd van die uittog uit Egipte) ontstaan het en die skriftelike neerslag is eers ná die Babiloniese balingskap (587- 538v.C.) voltooi... 1.3 Vrae vir groepsgesprek.

1.3.1 Met die lees van die Skeppingsverhaal in Gen. 1 word dit onomwonde gestel dat God die hemel en die aarde geskep het, dat daar ‘n orde en plan agter alles is, dat tyd en ruimte geskep is waarin lewe floreer. Wat in die natuur het jou die afgelope maand of twee in verwondering voor die Skeppergod laat staan?

1.3.2 Iets wat ‘n mens opval, is dat daar in Gen. 2, anders as in Gen. 1, heeltyd gepraat word van die “Here God” (Jahwe, Elohim). In Gen. 1 lees jy elke keer net van “God”. Kyk ons verder na Gen. 4, vind ons daar net die benaming “Here”; in Gen. 5 – “God”; in Gen. 6-8 – “Here” en “God”, ens... Wat nou interessant is, is dat die Naam “Jahwe” (“die Here”) volgens Eks. 6:2 eers aan Moses geopenbaar is (Eks. 3:14). En tog vind ons dit hier, baie jare voor Moses se geboorte. Wat, dink jy, sou die verklaring hiervoor wees?

Page 6: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

6

1.3.3 Watter belangrikke lesse leer Gen. 1:26,27 ons oor die posisie, verantwoordelikheid en roeping van man en vrou in die samelewing?

Op watter manier kan die regte verstaan en uitleef van verse 26 en 27 ‘n bydrae lewer tot die bekamping van seksisme, asook die opvoeding van kinders oor die rol van man en vrou?

1.3.4 Watter belangrikke lesse leer Gen. 2:18, 20-24 ons oor die posisie, verantwoordelikheid en roeping van man en vrou in die huwelik?

Op watter manier kan die regte verstaan en uitleef van Gen. 2:18, 20-24 ‘n bydrae lewer tot gesonde en gelukkige huwelike en gesinne?

As jy na Gen. 1 en 2 kyk – wat, sou jy sê, is God se droom vir die huwelik?

1.3.5 Op watter maniere het die mens misluk in die opdrag om oor die skepping te heers?

Hoe kan, en behoort, dit reggestel te word?

Wat doen jy prakties om ‘n goeie Rentmeester van God se skepping te wees?

Page 7: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

7

BYBELSTUDIES 2019 EERSTE KWARTAAL – Genesis

Week 2: (5,6 Feb.) Die sondeval en die gevolge daarvan

Skriflesing: Gen. 3:1 tot 8:22 2.1 Inleidende opmerkings: In Genesis 3 word die sondeval van die mens beskrywe. In die daarop volgende hoofstukke van die gelese gedeeltes sien ons hoedat die sonde uitkring totdat God, met die uitsondering van Noag en sy huis, die sondige mensdom deur die sondvloed uitwis. Dit is egter ook opvallend hoedat God ten spyte van die sonde van die mense telkens genadig is. 2.2 Aantekeninge by Skrifgedeeltes Na aanleiding van die Griekse en Latynse vertalings van die Ou Testament word daar gewoonlik van die paradys gepraat. Die Hebreeus gebruik egter die woorde tuin van Eden. Waar dit presies geleë was, is nie duidelik nie. Niemand weet wat met die riviere Pison en Gihon (2:10-12) bedoel word nie. Die twee bome (Boom van die Lewe en Boom van Kennis) was nie bome wat een of ander fisiese eienskap bevat het wat aan die mens ‘n sekere kennis sou gee nie. Ons moet dit eerder sien as bome met ‘n simboliese betekenis. Anders as wat die geval is met die sondeval (waarvan niks in Buite- Bybelse geskrifte voorkom nie), kom die verhaal van ‘n “sondvloed” nogal heelwat in Buite-Bybelse geskrifte voor (Bv. Gilgamesj-epos) waarvan party tot sover terug as 3000 v.C. dateer. En in hierdie geskrifte word daar dan ook van ‘n groot skip gepraat en van mense en diere wat in die skip ingegaan het. Daar is egter geen argeologiese spore van so ‘n vloed gevind nie. 2.3 Vrae vir groepsgesprek.

2.3.1 God het in Gen 2:16 en 17 vir die mens ‘n keuse gegee. Gesels in die groep oor wat die implikasie hiervan vir die mens is.

Page 8: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

8

2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor sonde het ons in die feit dat die duiwel in die vorm van ‘n slang na die mens toe gekom het? 2.3.4 Sonde en versoekings loop altyd hand aan hand. Waar sien jy dit in hierdie verse? 2.3.5 As jy na hierdie gedeelte oor die sondeval in sy geheel kyk, wat sou jy sê is die wese van sonde? 2.3.6 Dit is vir ons as mense moeilik om verantwoordelikheid te aanvaar vir ons verkeerde keuses. Wat sê die volgende verse vir jou hieroor? (Gen 3:12 en13; 4:9). 2.3.7 God se genade kom telkens in hierdie gedeeltes na vore. Wat sê die volgende verse (Gen. 3:9, 15, 21, 4:13-15, 25, 6:5-8, 8:1) vir jou hieroor?. Gesels ook oor Gen. 2:17 en die feit dat die mens nie dadelik gesterf het nadat hy verkeerd gekies het nie.

Page 9: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

9

BYBELSTUDIES 2019 EERSTE KWARTAAL – Genesis

Week 3 (12,13 Feb.) Van Noag tot die toring van Babel

Skriflesing: Gen. 9:1-11:26 3.1 Inleiding: In Gen. 1-11 het ons (volgens Ferdinand Deist en Jasper Burden) waarskynlik met twee verhale te doen. Verhale wat eers los van mekaar gestaan het, en toe later saamgevoeg is. So byvoorbeeld is die vloedverhaal (Gen. 6-10) op ‘n latere stadium ingevoeg tussen Gen. 4 en 11. Dit kom voor asof Gen. 11 die verhaal van die mense van Gen. 4 voortsit. In Gen. 10 verdeel die mense reeds in lande, nasies en tale, maar in Gen. 11 tree alle mense as ‘n onverdeelde eenheid met een taal op. Dit kom voor asof ons nie hier met dieselfde verhaal te make het nie. 3.2 Aantekeninge: Ons sien dat die skeppingsopdragte in 9:1 en 7 herhaal word. Dit beklemtoon dat die sonde nie die beeld van God in die mens laat verdwyn het nie. “Wees vrugbaar” dui Noag aan as die vader van die nuwe mensdom. Deel van hierdie nuwe bedeling is: Al die diere en plante word tot beskikking van die mens gestel; Die vleis mag geëet word, maar nie die bloed nie; Die bloed van ‘n mens mag nie vergiet word nie – net God het mag oor lewe; die mens is God se beeld (verteenwoordiger) (dui aan hoe hoog God die mens se lewe ag). 3.3 Vrae vir groepsgesprek.

3.3.1 “Wees vrugbaar, word baie en bewoon die aarde”... ‘n Skeppingsopdrag aan Adam en Eva wat ook in Gen. 9 aan Noag en sy seuns gerig is (Die geslagsregister in Gen. 10 is die gevolg van die opdrag). Ons leef in 2019 met ‘n wêreldbevolking van meer as 7,63 biljoen mense. Wat sou vandag die oplossing vir die oorbevolking van die wêreld wees?

3.3.2 God is ‘n God van die verbond (Gen. 9:8-17). D.w.s. God maak beloftes aan mense (vers 11,15) en hou dan daardie

Page 10: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

10

beloftes. Hier sluit Hy ‘n verbond (ooreenkoms, kontrak, verdrag, verbintenis, verhouding) met Noag, die hoogste uitdrukking van God se genade teenoor ‘n mens. Die verbond is dus gegrond op God se verkiesing van mense... Wat beteken dit vir jou dat God ‘n God van die verbond is, en dat jy as gelowige, deel het aan God se verbond met die mens?

3.3.3 Ons lees in Gen. 9:20ev. hoe Noag ‘n wingerd plant, van die vrug daarvan gebruik, dronk word en kaal in sy tent gaan lê. Gam se optrede was lynreg teen die algemene praktyd van eerbied vir ouers of ouer persone. Sem en Jafet het die regte respek betoon. Bespreek: Respek word verdien!

3.3.4 Die vloek oor Kanaän, Gam se nageslag... In die verlede is die vervloeking dikwels gesien asof dit ‘n verwysing is na die volke van Afrika. Dit is verkeerd: Die vloek word nie oor Gam uitgespreek nie, maar oor Gam se seun Kanaan...

Sem verteenwoordig die Semitiese volke van die ooste, Jafet die volke van die weste en noordweste, terwyl Gam die aanduiding is vir Egipte en sy onderhorige plekke. Die vervloeking verwys na die oorheersing van Israel (as afstammelinge van Sem) en die Fillistyne (afstammelinge van Jafet) oor die Kanaäniete. Dit gaan immers hier om kinders en kleinkinders van dieselfde Noag.

Hoekom, dink jy, is die verhaal oor die vervloeking van Kanaän en die die verhaal oor die toring van Babel op ‘n stadium in die wêreld, en in ons land se geskiedenis, so maklik misbruik om rassevooroordeel te regverdig?

Page 11: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

11

Die geslagsregisters in Gen. 1-11 het ten doel om aan te toon dat die seën waardeur God heel aan die begin die moontlikheid tot vermeerdering aan die mens gegee het (Gen. 1:28), ‘n werklikheid geword het. Dit is veral interessant dat hier in die oergeskiedenis, elke keer wanneer die voortbestaan van die mens in ‘n krisis gedompel is, ‘n geslagsregister opgeneem is. Bv. Abel is vermoor en Kain ‘n swerwer. Set word gebore, en die geslagsregister volg in Gen. 5; Die verhaal gaan dan voort tot by die sondvloed waar net agt dit oorleef. In 9:1 word die opdrag herhaal, en die geslagsregister in Gen. 10 is die gevolg daarvan... Dit lyk asof die voortsetting van Gen. 10 in 11:10 volg... In Gen. 10 is daar alreeds ‘n aanduiding van die verspreiding van die mense. Maar nou word die register eers onderbreek met die verhaal om te vertel hoe dit gebeur het dat die mensheid versprei het. Dit alles wys ons dan op die trou van die Here...

3.3.5 Gen. 11:1-9 is ‘n verhaal van menslike oormoed. Maar in die proses (vers 4) het hulle lynreg teenoor God se opdrag in Gen. 1:28 en 9:1 gehandel. God se reaksie vind ons in verse 5-7. So, volgens die skrywer van Gen. 11, het dit dan gebeur dat die mense verskillende tale begin praat het en oor die aarde versprei het. Aan die einde moet ons sê dat die mens nie God se planne kan stuit nie, en dat die oortreding van die opdrag van die Here gestraf word... Waar in die Bybel (en in die geskiedenis tot hier) was daar ook (menslike of duiwelse) pogings om die plan van God te probeer stuit?

Gen. 11:10-32 – Hierdie gedeelte verbind die oergeskiedenis (Gen. 1-11) met die aartsvaders se verhale wat by Abraham begin. Die geslagsregister wys vir ons hoe die geskiedenis verloop het tot by Abram, die begin van die geskiedenis van God se volk.

Page 12: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

12

Die begin is, so lyk dit vir ons, onbeduidend klein. Klein in die sin dat God met een persoon, een gesin, en een volk begin. Uit die ganse mensdom kies God in sy goedheid en uit genade vir Abram en sy vrou Sarai – en begin om ‘n volk met hulle te bou. Uit hulle nageslag sou die volk Israel groei en uiteindelik die Messias as die Verlosser van die mensdom gebore word. Dit alles sou die genadewerk van God wees... Daar was egter dié een groot probleem: Hoe sou daar ‘n volk gebou kon word? Sarai was onvrugbaar, ‘n ramp vir ‘n egpaar in daardie tyd. Dan was hulle altwee ook al oud. Op hierdie stadium was Abram 75 jaar oud, en Sarai 65. Ons sien egter dat dit nie in die weg van God se plan met Abram en sy verlossingsplan met die mensdom gestaan het nie. God gebruik dus hulle verleentheid as ‘n geleentheid om sy verlossingsplan van stapel te stuur. Sarai se onvrugbaarheid en al die ander “vir-die-mens- onoorkomelike-probleme” het ook die weg geopen dat Abram van die begin af God in alles ten volle sou moes vertrou...

Page 13: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

13

BYBELSTUDIES 2019 EERSTE KWARTAAL – Genesis

Week 4: (19, 20 Feb.) Abraham

Skriflesing: Gen. 12:1-25:18 (vgl. Heb. 11:8-18) 4.1 Inleidende opmerkings: Ons kan Abraham met reg die Vader van Geloof noem. Dit is met sy roeping waar God se pad met Sy volk begin, eers die volk Israel en later die NT volk van God, die kerk. Daarom ook dat Abraham se naam ‘n prominente plek inneem tussen die geloofshelde van die Ou Testament in Heb. 11. 4.2 Aantekeninge by Skrifgedeeltes Ur is geleë naby die Persiese Golf. Van Haran tot by Kanaän is dit ongeveer 600 km en van Kanaän af tot by die Suidland (Egipte) is dit ook ongeveer 600 km. Die verbondsluiting van Gen. 15 wys vir ons treffend hoe ‘n ooreenkoms in daardie tyd gesluit is. Die sterker party het vir die swakker party gesê om ‘n dier te slag en in stukke te sny en op die grond uit te pak. Dan het die twee partye tussen die stukke vleis deurgeloop en as hulle ander kant gekom het, het die sterker party vir die swakker een gesê dat as hy die ooreenkoms nie nakom nie sal hy met hom doen wat hulle met die vleis gedoen het.

Die nageslag van Ismael, die seun van Abraham by Hagar, is die Arabiere. Jood en Arabier het met ander woorde dieselfde voorvader.

Sodom lê vandag onder die water aan die suidelike punt van die Dooie See. ‘n Naaldrots in die omgewing word vandag heel gepas “Lot se Vrou” genoem. Dit is interessant dat die mediese wetenskap bevind het dat die bloed van ‘n mens op die agste dag van sy lewe die vinnigste stol. 4.3 Vrae vir groepsgesprek.

4.3.1 Watter dinge val jou op oor die roeping van Abraham in Gen. 12:1-5? Wat sê dit vir jou oor sy geloof? Vergelyk ook Heb. 11:8-11 in hierdie verband.

Page 14: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

14

4.3.2 Abraham se geloof was nie altyd so sterk nie. Wat leer Gen. 12:10-13 vir jou hieroor? Vergelyk ook Gen. 15:2, 16:2, 17:18, 20:1-2. 4.3.3 Wat leer Gen. 13:8-11 vir jou oor Abraham? 4.3.4 In Gen. 15 sluit God ‘n verbond met Abraham. Wat leer die feit dat God alleen, sonder Abraham, in die vorm van ‘n rokende oond in Gen. 15 tussen die stukke vleis deurgegaan het vir ons (Vgl. 15:17 asook die aantekeninge hierbo). 4.3.5 Wat is die inhoud van God se verbond met Abraham? (Vgl. 17:7) 4.3.6 Geloof en gehoorsaamheid gaan hand aan hand. Wat leer jy hiervan in Gen. 17:22-27? 4.3.7 In Gen. 22 toets die Here Abraham se geloof op ‘n aangrypende manier. Wat sê die volgende verse vir jou oor hierdie toets: Gen. 22:2, 4, 7-8, 9-11. Vergelyk ook Heb. 11:17-19 in hierdie verband. 4.3.8 Wat sê Jak. 2:21-22 vir ons oor hierdie gebeurtenis?

Page 15: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

15

BYBELSTUDIES 2019 EERSTE KWARTAAL – Genesis

Week 5 (26, 27 Feb.) Isak, Jakob en Esau

Skriflesing: Gen. 25:19-36:43 5.1 Vrae vir groepsgesprek.

5.1.1 Gen 25:19-34... Hoekom, sou jy sê, is dit God self wat die fokuspunt is hier, en nie Isak, Jakob, Esau of Rebekka nie?

5.1.2 Gen. 26:1-35... Die Here se belofte aan Isak... “...Ek sal by jou wees en jou voorspoedig maak.” Op watter maniere was die Here in hierdie teksgedeelte getrou aan hierdie belofte?

5.1.3 Gen. 27:1-45... (vgl. Gen. 25:19-34) Hierdie verhaal is deurweef met leuens en bedrog. Jakob ontvang Esau se seën. Vergelyk nou die seën wat Jakob ontvang (verse 27-29) met 25:23 (die Here se woorde aan Rebekka) en Jakob se seën aan Juda in 49:8-12. Wat verkondig hierdie seën aan ons?

5.1.4 Genesis 27:46-28:9... Wat hier uitstaan, is die afskeidswoord van Isak aan Jakob (28:1-4). Dit is ook ‘n verhaal waar Jakob doen wat sy ouers van hom vra (verse 5-7) en Esau wat doelbewus nie doen wat sy ouers wil nie (verse 8-9). Watter raad sou jy aan ouers gee wat jou met so ‘n krisis in gesinsverband nader?

Page 16: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

16

5.1.5 Genesis 28:10-22... Die Here verskyn in ‘n droom aan Jakob, herhaal die beloftes (verse 13-15), en behandel hom anders as wat hy verdien en verwag het. In sy genade verbind die Here Hom aan ‘n vlugtende bedrieër. Ons sien dus hier die onverstoorbaarheid en onweerstaanbaarheid van God se genade. God is groter en sterker as die sonde van die mens. Bespreek: God vergewe jou voordat jy jou sonde bely! Motiveer.

* Gen. 29:1-30... die verhaal van Jakob wat deur Laban bedrieg word en uiteindelik 14 jaar vir sy geliefde Ragel gewerk het. * Gen. 29:31-30:24 – Jakob se kinders... Die gedeelte begin met die interessante opmerking dat die Here gesien het dat Jakob nie vir Lea liefhet nie. Die Here het toe vir Lea kinders gegee, terwyl Ragel kinderloos gebly het... Uiteindelik is daar ‘n klomp kinders gebore. Deur wie sou die lyn tot by Christus loop? Nie deur die geliefde Ragel of haar seuns by Jakob nie, maar deur Lea (die vrou wat Jakob nie liefgehad het nie) se vierde seun – Juda... * Genesis 30:25-31:55 – ‘n heen en weer kullery, maar Jakob kom die beste daarvan af. God stuur hom terug na sy vaderland en familie toe, en belowe om by hom te wees. * Gen. 32:1-32... Jakob vrees sy ontmoeting met Esau. Let op Jakob se gebed tot God in verse 9-12 oor die ontmoeting wat voorlê. Hy tref voorbereidings daarvoor. In die nag stoei Jakob met die hemelse wese. Voor Jakob by Esau kon uitkom, moes hy eers by die Here verbykom. Dit was ‘n worsteling. “Wat is jou naam?” “Jakob.” (bedrieër) “Jy sal Israel genoem word...” So breek ‘n nuwe begin vir Jakob aan...

Page 17: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

17

5.1.6Gen. 33:1-17 – Jakob het in 32:11 die Here gevra om hom uit die mag van sy broer te red want hy was bang vir hom. Hier ontmoet hulle mekaar, en Jakob is opreg jammer oor sy bedrog teenoor sy broer. Soos iemand dit stel: “Sonder om dit in woorde te sê, het Jakob met sy geskenke sy skuld bely , en het Esau met sy omhelsing sy vergifnis aangebied. Versoening kan net plaasvind wanneer skuld bely en vergifnis aangebied word.” Jakob se versoening met Esau volvoer wanneer hulle saam hulle pa begrawe (35:29) Alles verloop ook heel anders as wat Jakob homself voorgestel het. Vraag: Vertel vir mekaar van die kere waar jy oor ‘n sekere saak gebid het, en ten spyte van die beloftes van die Here, getwyfel het dat dit gaan gebeur waarvoor jy gebid het.

* Gen. 33:18-36:43... Jakob bou ‘n altaar en verklaar: Die God van Israel is God... (Niemand anders nie). Dan volg die verhaal van Dina se verkragting en hoe haar broers daarop gereageer het. God praat weer met Jakob, en hy en sy familie trek Bet-El toe. By Bet-El herbevestig die Here sy beloftes van ‘n groot nasie en ‘n eie land. Die gedeelte sluit met geslagsregisters...

Page 18: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

18

BYBELSTUDIES 2019 EERSTE KWARTAAL – Genesis

Week 6 (5, 6 Mrt.) Josef en sy broers

Skriflesing: Gen. 37:1-45:28 6.1 Inleidende opmerkings: Die verhaal van Josef het ‘n baie belangrike boodskap vir ons in ‘n tyd van krisis. Daar het verskeie dinge met die jongman gebeur wat vir hom moeilik was om te verwerk (Dink aan die put, die verkoop, Potifar se vrou, die tronk). In ‘n krisis sien ‘n mens nie altyd die lig nie, want dit is moeilik om verder as jou omstandighede te kyk. As ‘n mens egter kan terugkyk oor sy lewenspad, sien ‘n mens hoedat die Here dit alles op ‘n wonderlike manier gebruik het tot voordeel van Sy volk. 6.2 Aantekeninge by Skrifgedeeltes Leë putte is meermale gebruik om van ongewenste persone ontslae te raak. In Geser is ‘n put ontdek wat vol geraamtes was. Die handel tussen Asië en Egipte is van vroegste tye af behartig deur nomadiese stamme wat met hulle kamele hulle ware vervoer het. Papirus-dokumente in Egipte het getoon dat slawe baie gesog was in Egipte. Die gebeure in hoofstuk 38 is ‘n tussenspel in die geskiedenis van Josef. Die amper kru gebeure tussen Juda en Tamar (vers 15-16) het ‘n interessante verband met die geslagsregister van Jesus in Matt. 1 (v3) waar Tamar se naam saam met 3 ander vroue (wat bekend was vir hulle sonde of die feit dat hulle buite die volk Israel gestaan het) genoem word as die voorgeslagte van Jesus. Die posisie van Josef in Potifar se huis stem ooreen met die gebruike van daardie tyd. Hy was eers ‘n slaaf, toe ‘n voorspoedige man (39:2), toe aangestel oor sy huis (39:4-5) en ten slotte kry hy kontrole oor sy hele huishouding (39:6) Die titels “owerste van die bakkers” en “owerste van die skinkers” kom ook in Egiptiese inskripsies voor. Die hoofskinker het ‘n besondere hoë posisie beklee. Mense wat drome uitlê was volop in Egipte. Drome is as uiters belangrik beskou.

Page 19: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

19

Dat Josef homself skeer voordat hy by die Farao kom (41:14), was tipies. Die Egiptenare het ‘n afkeer in baarde gehad. 6.3 Vrae vir groepsgesprek.

6.3.1 Gesels in die groep met mekaar oor Josef se ervarings soos dit in hoofstuk 37 beskrywe word. Vergelyk veral 37:2, 23-28, 36. 6.3.2 Kan jy jou vereenselwig met die broers se emosies in 37:4, 5- 11? Hoe oordeel jy oor hulle optrede in 37:18-32? 6.3.3 Is die moeilike dinge wat met Josef in hoofstuk 37 gebeur het die resultaat van God wat dit so beskik het, of is dit die gevolg van menslike keuses? (Vergelyk ook 38:13-18) Hoekom sê jy so? 6.3.4 Die gebeure in hoofstuk 39 vertel van Josef se opgang in Potifar se huis wat ‘n baie onaangename einde gehad het na die gebeure met sy vrou. Wat sê die volgende verse vir ons oor Josef: Gen 39:2-6, 8-12?

Page 20: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

20

6.3.5 Josef beland as gevolg hiervan onskuldig in die tronk. Ons voel in sulke krisisse dikwels asof die Here van ons vergeet het. Wat sê die volgende verse vir ons oor God: Gen 39:20b-23? Wat dink jy was Josef se ervaring (vgl. 41:1) van hierdie gebeure? 6.3.6 Wat leer Gen. 41:51 vir ons oor die vergifnis van Josef teenoor sy broers? Die gebeure in hoofstuk 42 tot 44 werp ook lig op die vraag. 6.3.7 In hoofstuk 45 is daar ‘n gelukkige einde. Josef maak ‘n belangrike gevolgtrekking in 45:5 en 7. Gesels nou weer in die groep oor die vraag of die moeilike dinge wat met Josef gebeur het die resultaat is van God wat dit so beskik het, of is dit die gevolg van menslike keuses? Of is dit dalk so dat God menslike keuses (en selfs verkeerde keuses) kan gebruik om sy Koninkryk te bevorder?

Page 21: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

21

BYBELSTUDIES 2019 EERSTE KWARTAAL – Genesis

Week 7 (12, 13 Mrt.) Jakob en sy nageslag in Egipte

Skriflesing: Gen. 46:1-50:26 7.1 Inleiding: Die volgende val jou op met die lees van Gen. 46:1-50:26:

Toe Jakob Josef se twee seuns seën, kruis Jakob sy hande sodat sy regterhand op die jongste seun se kop geplaas word, en sy linkerhand op die oudste se kop. Dit herinner nogal aan wat met Jakob en Esau gebeur het – Jakob, die jongste, ontvang die seën wat Esau eintlik moes ontvang het...

Gaan lees ook weer Gen. 49 waar Jakob al sy seuns seën en vir hulle vertel wat met hulle nageslagte gaan gebeur. Van dit klink meer na oordeel. Let veral op die seën aan Juda (verse 8-12), die stam uit wie Dawid en later Jesus Christus gebore sou word...

Ten spyte van die kwaad wat Josef se broers hom aangedoen het, vergewe hy sy broers ten volle. Hy sorg daarvoor dat almal genoeg kos het om te eet....

7.2 Vrae vir groepsgesprek:

7.2.1 Let op die aangrypende manier waarop God met Jakob in 46:2- 4 praat. Gesels oor die manier waarop God Homself openbaar, asook oor die troos en beloftes van die Here in hierdie verse vir Jakob.

Watter van die Here se woorde aan Jakob kan jy vir jouself toeëien?

7.2.2 God het Abraham in Gen. 12 die belofte van ‘n eie land gemaak (die Here herhaal dit in Gen. 13 en 15). In Gen. 26 word die belofte ook aan Isak gemaak, en in Gen. 28 aan Jakob. Hier in 46:4 belowe die Here weer: “Ek sal jou beslis weer hierheen

Page 22: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

22

laat terugkom.” Dit het gebeur toe sy seuns hom gaan begrawe (Gen. 50:13). Maar voor sy afsterwe, sê Israel (Jakob) in Gen. 48:21 vir Josef: “Hy (God) sal julle terugbring in die land van julle voorvaders.” Ook Josef, voor sy afsterwe, herhaal hierdie belofte aan sy broers in Gen. 50:24... “Na my dood sal God na julle omsien en Hy sal julle uit hierdie land uit laat trek na die land toe wat Hy met ‘n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob.” Wat sê dit van God, en wat vra dit van die een wat die belofte ontvang? (vgl. Heb. 11:1) 7.2.3 “Toe Josef hom (Jakob, sy pa) sien, het hy hom omhels en lank so gestaan en huil. Toe sê Israel vir Josef: ‘Nou kan ek maar sterf. Ek het jou gesien. Jy lewe nog!’” Reflekteer vir ‘n oomblik oor die emosies en gedagtes van Jakob en Josef. Wat, dink jy, het hulle hier gedink en gevoel? 7.2.4 Ons hoor dikwels die oproep van die Here dat ons nie bang moet wees nie, en kry ook die versekering dat Hy by ons is. Waarom, sou jy sê, is vrees, angs en angstigheid dan nog so deel van ons lewens? 7.2.5 Wat leer jy oor skuldbelydenis en vergifnis uit Gen. 50:15-21? 7.2.6 Lees weer Gen. 50:20. Vgl. dit met Rom. 8:28. Hoe sal jy die waarheid van hierdie verse aan iemand anders verduidelik wat dít nie van God insien nie?

Page 23: NG KERK POTCHEFSTROOM-MOOIRIVIER BYBELSTUDIE EERSTE ... · 2.3.2 Beteken dit dat God eintlik die oorsprong van die sonde is? Waarom sê jy so? 2.3.3 Watter belangrike waarheid oor

23

AANTEKENINGE:

______________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________