Upload
others
View
1
Download
0
Embed Size (px)
Citation preview
Romeine 9
1Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie my gewete getuig saam met my in
die Heilige Gees 2dat dit vir my ʼn groot droefheid is en ʼn onophoudelike smart vir my
hart. 3Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die
vlees, ʼn vervloeking te wees, wég van Christus af. 4Hulle is Israeliete aan wie die
aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing
en die erediens en die beloftes; 5aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is
na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen. 6Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal
Israel wat uit Israel is nie. 7Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle
almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. 8Dit wil sê, nie hulle
is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die
belofte word gereken as die nageslag. 9Want dit is die woord van die belofte:
Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal ʼn seun hê. 10En nie alleen dit nie, maar
ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader. 11Want toe die kinders
nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie – dat die voorneme
van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom
wat roep – 12is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. 13Soos geskrywe is:
Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat. 14Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie! 15Want aan
Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm
oor wie Ek My wil ontferm. 16So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die
een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. 17Want die Skrif sê aan Farao:
Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam
verkondig kan word op die hele aarde. 18So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en
Hy verhard wie Hy wil. 19Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan? 20Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir
die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? 21Of het die pottebakker nie mag
oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te
maak nie? 22En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met
1
groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra
het, 23juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van
barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, 24ons naamlik wat Hy geroep
het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? 25Soos Hy ook in Hoséa
sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie,
beminde; 26en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! daar sal
hulle genoem word kinders van die lewende God. 27En Jesaja roep oor Israel uit: Al
is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel
sal gered word; 28want Hy volbring ʼn saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die
Here ʼn saak wat verkort is, op die aarde sal doen. 29En soos Jesaja tevore gesê het:
As die Here van die leërskare vir ons nie ʼn nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom
sou ons geword het en aan Gomorra gelyk gewees het. 30Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie,
die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is; 31terwyl
Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid
nie bereik het nie. 32Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit
uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van
aanstoot. 33Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ʼn steen van aanstoot en ʼn rots van
struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
1. God se seëninge oor Israel – Romeine 9:1-51Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie – my gewete getuig saam met
my in die Heilige Gees – 2dat dit vir my ʼn groot droefheid is en ʼn
onophoudelike smart vir my hart. 3Want ek sou self kon wens om ter wille van
my broers, my stamgenote na die vlees, ʼn vervloeking te wees, wég van
Christus af. 4Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en
die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die
beloftes; 5aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy
wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.
1.1 Vrae by Romeine 9:1-5
1. Hoe sluit Romeine 9 tot 11 by die voorafgaande agt hoofstukke aan?
2
Wanneer ʼn mens Romeine aandagtig deur lees, kom ʼn mens dadelik ʼn groot
verandering agter in die gemoedstoestand van Paulus. In Romeine 8 het hy nog
gejuig en gejubel dat daar regtig niks is wat die gelowige van God se liefde in
Christus kan skei nie. En soos ʼn handomkeer verander Paulus se gejubel in
droefheid en trane wanneer hy oor die Jode begin skryf in Romeine 9 tot 11. Dit is
so erg dat Paulus selfs wens om van Christus geskei te wees indien dit sou kon
veroorsaak dat sy stamgenote gered kan word.
In Romeine 9 vind ʼn mens ook duidelike uitsprake aangaande die soewereiniteit van
God. Vir baie mense is dit ʼn leerstuk wat moeilik aanvaar word omdat dit die mens
se sogenaamde vrye wil verwerp. Ander mense gaan so oploop met die leerstuk
van die soewereiniteit van God dat dit naderhand blyk die mens het geen
verantwoordelikheid nie. Terwyl die Bybel baie duidelik is dat die mens die
verantwoordelikheid het om hom te bekeer en te glo. Wanneer die mens dan wel tot
bekering en geloof kom, kom hy agter dat dit gebeur het opgrond van God se
soewereine genade sodat niemand rede het om op homself trots te wees nie.
Tog is die soewereiniteit van God nie die hooftema van hierdie drie hoofstukke nie.
Dit is egter ʼn tema wat die hoof argument in Romeine 9 tot 11 ondersteun. Hoewel
Romeine 9 tot 11 oor die Jode hoofsaaklik handel, is dit van uiterste belang vir die
Christen. In Romeine 8 het die gelowiges die versekering gekry dat niks hulle van
God se liefde in Christus kan skei nie, want sy liefde is gegrondves op sy ewige
besluit. God het die gelowiges vantevore geken en vantevore verordineer om
gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun. Sy liefde staan dus vas op die
besluit om die gelowiges van ewigheid af te verkies.
Iemand wat egter die Ou Testament ken en die geskiedenis van die Jode al onder
oë gehad het, sal nou begin wonder oor hierdie sekerheid. Israel was immers God
se uitverkore volk (Deut 7:6; 14:2). God het belowe om die Jode te seën sodat al die
volke van die aarde deur hulle geseën sal word. Maar teen die tyd dat Paulus
hierdie brief geskryf het, het die meerderheid van die Jode vir Jesus as die Messias
3
verwerp en hulle was aktief gekant teen die Christene – Paulus is self ʼn teiken van
die Jode se onversadigbare haat.
In die lig van die Jode se verwerping van Christus onstaan die vraag of God se doel
met die Jode dan gefaal het? En as God nie sy doel met die Jode kon bereik nie,
watter waarborg is daar dat Hy sy doel met die gelowiges gaan bereik om hulle
gelykvormig te maak aan die beeld van sy Seun? Hoe kan ʼn mens verseker wees
dat niks jou as uitverkorene van die liefde van Christus sal skei nie, as die
Jode – die uitverkore volk van God – dan van Christus geskei is? Dit is die
vraag wat in Romeine 9 tot 11 aan die orde gestel word.
2. Waarom is dit vir Paulus nodig om selfs die Here as getuie in te roep oor sy
droefheid oor die Jode? (vers 1-2)
3. Tot watter mate is Paulus regtig bedroef oor die Jode? (vers 3)
Die Jode het werklik uit hulle pad gegaan om Paulus op een of ander wyse by te
kom. Dit was vir baie Jode onbegryplik hoe hy van ʼn Fariseër kon verander tot ʼn
volgeling en apostel van Jesus Christus. Nêrens was Paulus werklik veilig nie. In
Jerusalem wou die Jode hom al dood maak en dit was kort nadat hy tot bekering
gekom het (Hand 9:28-31). Om die waarheid te sê drie jaar na sy bekering. Op sy
eerste sendingreis het die Jode hom soos ʼn prooi van Antiochië in Pisidië agtervolg
totdat hulle hom in Listra gestenig het en vir dood uit die stad uitgesleep het (Hand
14:19). Met net hierdie enkele pennestrepe kom ʼn mens agter watter geweldige
haat die Jode teen Paulus gekoester het.
Die normale en verwagte reaksie van iemand wat so vervolg word deur die Jode is
dat Paulus ʼn afkeer en ʼn wedersydse haat vir die Jode sou gekoester het. Maar dit
was nie die geval nie. Paulus het ʼn groot droefheid en onophoudelike smart oor sy
mede Jode gedra. Aangesien dit vir baie mense ondenkbaar sou wees dat hy
soveel hartseer vir die Jode het, moes hy ter wille van sy hoorders selfs die
Here inroep as getuie oor dit wat in sy hart leef vir die Jode.
4
Die hartseer oor die ongehoorsaamheid van die Jode was nie maar net ʼn gevoel wat
Paulus in sy hart gedra het nie. Hy verwoord sy hartseer. Indien dit enigsins
moontlik sou wees dat hy ʼn vervloeking kon wees – dit wil sê, weg van
Christus en verlore – sodat die Jode gered kon word, sou dit hom verbly het.
In Romeine 8 het Paulus so pas gesê dat niks ʼn gelowige ooit van die liefde van
Christus sal kan skei nie. Dus is daar geen manier dat hy van Christus se liefde
geskei kan word en dus verlore sal gaan nie. God se ewige besluit oor Paulus is die
anker waarmee hy aan Christus gebind is. Deur hierdie uiterste stelling te maak, wil
Paulus aantoon en die lesers van die brief verseker dat hy werklik vanuit sy hart uit
diep besorg is oor die ewige wel en weë van die Jode. Wat met Paulus nooit sou
kon gebeur nie, het met Christus wel gebeur. Hy het werklik sy lewe afgelê vir
mense en Hy was werklik van sy Vader se liefde geskei gewees sodat mense van
die verskriklike oordeel van God verlos kon word.
4. Oor watter voorregte het die Jode alles beskik? (vers 4-5)
Die Here het aan Israel – die volkie wat Hy onder al die volke in die wêreld vir Hom
as eiendomsvolk verkies het – unieke geestelike voorregte gegee. Slegs die
ontvangs van die voorregte sal ʼn mens nie verlos nie. Die ontvanger moet op die
voorregte reageer en gebruikmaak daarvan. Die ontvangers van die voorregte is
egter geestelik dood, daarom sou hulle nie vanself die waarde van die voorregte
besef het nie, maar dit neem egter nie hulle verantwoordelikheid weg om te reageer
nie. Baie Jode het egter so op die geestelike voorregte gefokus dat hulle van
oordeel was dat hulle ontvangs en besit van die voorregte hulle saak met God
regmaak. Mense wat so oor die geestelike voorregte gedink het, het glad en geheel
nie die genade van God gesoek om hierdie voorregte vir hulleself toe te pas nie.
Paulus maak ʼn lys van nege geestelike voorregte wat die Here aan die Jode gegee
het:
5
Hulle is Israeliete – hulle is die nageslag van Jakob wie se naam deur die Here
verander is na Israel. Hulle behoort dus op ʼn besondere wyse aan die Here.
Van hulle het die Here ʼn houer gemaak van die verlossing vir die wêreld.
Hulle het die aanneming tot kinders (Eks 4:22; Jer 31:9; Hos 11:1) – God het
Israel onder al die volke van die wêreld aangeneem as sy volk.
Hulle het die heerlikheid (Eks 16:10; 40:34; 1 Kon 8:10-11) – hulle het die
heerlikheid van die Here in hulle midde verskeie kere gesien omdat God sy
heerlikheid aan hulle geopenbaar het.
Hulle het die verbonde (Gen 15; Eks 24:7-8; Ps 89:3-4; Jer 31:31-37; Efes
2:12) – God het met Abraham, Moses en Dawid verbonde aangegaan. Daar is
geen ander volk met wie God so in ʼn verhouding getree het nie.
Hulle het die wet (Eks 20:1-7) – aan hulle het die Here sy Tien Gebooie gegee
as ʼn riglyn om as verloste mense te leef en God dus te verheerlik.
Hulle het die eredienste – God het aan Israel geopenbaar hoe hulle Hom by
die tempel moet dien. Aan hulle is die feeste en offers geopenbaar.
Hulle het die beloftes – aan hulle het die Here uitsonderlike beloftes gemaak.
Gaan kyk maar die beloftes wat die Here gemaak het in die verbonde met
Abraham, Moses en Dawid.
Hulle het die vaders – die Jode stam van Abraham, Isak en Jakob af – mense
met wie die Here ʼn besonders intieme verhouding gehad het.
Uit hulle is Christus na die vlees gebore – Christus is veral die vervulling van
die verbondsbeloftes aan Abraham en Dawid. Christus se geslagslyn is uit die
volk wat die Here vir Hom as eiendomsvolk verkies het.
5. Wat was die Here se bedoeling met al hierdie voorregte aan die Jode? (vers 4-5)
6. Waarom sluit Paulus vers 5 af met ʼn lofprysing van Christus?
Israel het hierdie geestelike voorregte ontvang nie om daarmee te spog en hulleself
bo ander mense te verhef nie. Wat die Here ook al doen, doen Hy om Homself te
verheerlik. Die hoofrede waarom God die hemel en die aarde geskep het en
waarom Hy mense van hulle sondes verlos, is om Homself te verheerlik. Die hele
skepping en elke mens moet erken en bely dat die Here alleen God is en dat Hy
6
groot en goed is. Israel is deur die Here verkies en bevoorreg sodat hulle juis
die grootheid en goedheid van die Here onder al die volke van die wêreld sou
vertoon. Deur die voorregte op hulleself van toepassing te maak, moes hulle ander
volke na die Here toe aantrek.
Christus is nie maar net ʼn mens wat uit die Jode gebore is nie. Hy is in werklikheid
God wat die vlees van die mens aangeneem het. Die Here verwag dat ʼn mens in
Christus sal glo. Maar dan moet ʼn mens nie maar net glo dat Hy jou verlos het nie.
Jy moet ook in Hom glo as God, want Hy is werklik die lewende God. Hy is oor
alles en is dus die Here van die ganse skepping.
Besprekingsvrae
1. Hoe gereeld dink jy aan die aaklige einde van mense wat verlore is en as
verlorenes sal sterf?
2. Hoe kan ons aan die verlorenes ons besorgdheid oor hulle geestelike toestand
betoon wanneer hulle dink alles is reg in hulle lewens?
3. Hoe hanteer jy die geestelike voorregte wat die Here aan jou gegee het?
4. Hoekom sou jy sê moet ʼn mens glo dat Jesus werklik God is om gered te kan
wees?
2. God se verkiesing van Israel – Romeine 9:6-136Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie
almal Israel wat uit Israel is nie. 7Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is,
is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. 8Dit wil
sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die
kinders van die belofte word gereken as die nageslag. 9Want dit is die woord
van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal ʼn seun hê. 10En
nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons
vader. 11Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad
gedoen het nie – dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly
staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep – 12is vir haar gesê: Die
7
oudste sal die jongste dien. 13Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en
Esau het Ek gehaat.
2.1 Vrae by Romeine 9:6-13
1. Watter woord van God het nie verval nie? (vers 6)
2. Wat beteken dit as daar gesê word nie almal is Israel wat uit Israel is nie? (vers
6)
In die eerste drie verse het Paulus sy eie droefheid oor die ongelowigheid van so
baie van sy volksgenote bekendgemaak. Wat hom veral bedroef maak, is die feit
dat hierdie volksgenote ongelowig is en bly terwyl die Here soveel voorregte aan
hulle gegee het soos wat hy in vers 4 en 5 uitgestip het.
Die feit dat die meerderheid Jode so gekant is teen die evangelie en in hulle
ongeloof volhard, wil nie sê dat God se woord verval het nie. Die woord van God
waarvan hier gepraat word, verwys na die belofte wat die Here aan Abraham
gemaak het in die verbond wat Hy met hom gesluit het. Niemand moet ooit dink
dat God se verbondsbeloftes aan Israel tot niet gegaan het omdat die Jode hulle nie
wil bekeer en in Jesus glo nie.
Die Here se verbond hou nie op bestaan as die mens nie in hierdie verhouding wat
God met hom aangegaan het, wil volhard nie. Die Here se verbond is ewig.
Daarom laat Hy aanhoudend van sy liefde en trou teenoor die mens verkondig. Die
evangelie word aanhoudend verkondig.
Maar hoekom is dit dan so dat daar Jode is wat ondanks al die voorregte wat hulle
van die Here ontvang het, tog nie glo nie? Die antwoord hierop word in die tweede
deel van vers 6 gegee: want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.
Om fisies ʼn Jood te wees en wettig ʼn afstammeling van Abraham, Isak en Jakob te
wees, het verseker sy voordele (sien vers 4 en 5). Maar dit beteken hoegenaamd
nie dat jy werklik ʼn Israeliet is nie – nie almal wat Israeliete is, is werklik die Israel
van God nie.
8
Dit is egter nie die eerste maal wat hierdie onderskeid onder die Jode in die brief aan
die Romeine gemaak word nie. In Romeine 2 het Paulus ʼn onderskeid tussen die
Jode aangedui: Want nie hy is ʼn Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is
besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ʼn Jood wat
dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na
die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God. (Romeine 2:28-29)
Om terug te keer na die voordele wat die Jode van ouds af gehad het, soos dit in
vers 4 en 5 uiteengesit is. Net die feit dat jy hierdie voordele het, maak nie van
jou ʼn Israeliet nie. Die Here het die voordele aan Israel gegee om te gebruik.
Wanneer hulle gelowige gebruik maak van die voordele sal hulle by Christus
uitkom, want daarvoor het God die voordele aan Israel gegee. Ongelukkig is
daar baie Jode wat nog nie hierdie voordele reg gebruik nie, want hulle kom nie by
Christus uit nie. Inteendeel, baie Jode het hierdie voordele misgebruik om juis op
die heidene neer te sien en hulle te verag. Kyk net hoe hoogmoedig was Jona
teenoor die mense van Nineve.
In die volgende sewe verse (Rom 9:7-13) word die kring al kleiner en meer spesifiek
getrek om aan te toon dat nie almal wat uit Israel is, is werklik Israel nie. Twee baie
bekende gebeure uit die geskiedenis word gebruik om hierdie kring al kleiner te trek.
Daar word begin met die eerste twee seuns wat Abraham gehad het (Rom 9:7-9),
naamlik Isak en Ismael alhoewel Ismael nie eers hier genoem word nie.
Net omdat iemand fisies van Abraham afstam, beteken dit nie dat hy outomaties ʼn
kind van God is nie. Dit is iets waarop die Jode nogal geroem het – hulle stam van
Abraham af. In een van die twisgesprekke wat die Jode met Jesus gehad het
(Johannes 8:31-47), het Hy juis vir hulle gewys wat is die verskil tussen hulle – die
ongelowige Jode – en die werklike kinders van Abraham. Die werklike kinders van
Abraham het Jesus lief en hulle luister na God. Die Jode wat van Abraham afstam,
maar Jesus nie liefhet nie, is nie kinders van Abraham nie, maar van die duiwel.
9
Vroeër in die brief het Paulus ook aangetoon dat dit nie net oor die fisiese
afstamming van Abraham gaan nie. Dit gaan daaroor dat ʼn mens gehoorsaam aan
die Here doen wat Abraham gedoen het – hy het die Here onvoorwaardelik geglo.
Sodoende is Abraham die vader van al die gelowiges – die onbesnedenes wat glo
sowel as die besnedenes wat glo. En hy het die teken van die besnydenis
ontvang as ʼn seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny
was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede
is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; en ook ʼn vader
van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook
wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy
onbesnede was. (Romeine 4:11-12)
3. Wat word bedoel met die kinders van die vlees in die geval van Abraham se
twee seuns? (vers 8)
4. Wanneer het God al besluit om met Isak die verbond voort te sit? (vers 7-9)
Daar is reeds daarop gewys dat die fisiese en wettige afstamming van Abraham nie
noodwendig beteken dat so iemand regtig ʼn kind van Abraham en dus ook ʼn kind
van God is nie. Die twee bekendste seuns van Abraham is Isak en Ismael.
Toe die Here vir Abraham uit sy vader se huis en uit sy familie geroep het, het Hy
reeds die belofte gemaak dat Abraham ʼn groot nageslag sal hê (Gen 12:2). Op die
ouderdom van vyf en sewentig was dit ʼn wonderlike belofte aan Abraham, want sy
vrou was tot nou toe nog onvrugbaar. Die jare het egter aangestap – Abraham en
Sara het ouer geword en na tien jaar was daar nog geen kind vir hulle gebore nie.
Albei van hulle glo die belofte van die Here dat Abraham ʼn groot nageslag sal hê,
maar op die normale wyse het die Here nog nie begin om die nageslag te gee nie.
Daarom het Sara met die plan vorendag gekom dat Abraham ʼn kind by Hagar moet
verwek. Ismael is dus deur Abraham by Hagar verwek omdat Abraham en Sara nie
bereid was om te wag dat die Here self sy belofte vervul nie. Ismael staan bekend
as ʼn kind van die vlees omdat Abraham en Sara op hulle eie wyse wou sorg
dat Abraham ʼn nageslag sal hê volgens die belofte van die Here.
10
Die Here het egter gewag totdat Abraham honderd jaar oud was en Sara negentig –
ver verby die ouderdom vir ʼn vrou om kinders in die wêreld te bring voordat Hy die
beloofde kind aan Abraham en Sara gegee het (Rom 4:18-21). Niemand – nie eers
Abraham of Sara – sou kon roem dat Abraham ʼn seun deur sy eie kragte verwek het
nie. En wanneer Hagar en Ismael uiteindelik weggestuur word, verseker die Here vir
Abraham dat sy nageslag deur Isak sal wees. Isak is die een met wie die Here die
besondere verhouding van die verbond gaan voortsit omdat die Here al by Abraham
se roeping sy besluit aan Abraham bekend gemaak het dat hy ʼn groot nageslag sal
hê. God se besluit om met Isak die verbond voort te sit, is dus ook in die
ewigheid geneem.
Die egte nageslag van Abraham is dus die kinders van die belofte, soos wat die
Here ten aanhore van Sara aan Abraham sy belofte van die nageslag bevestig het
toe Hy belowe het dat Sara oor ʼn jaar ʼn seun sou hê (Gen 18:10). Dit is met hom
wat die Here die verbond oprig as ʼn ewige verbond (Gen 17:19). Alhoewel die Here
sy besondere verhouding met Isak voortsit, is Ismael nie deur die Here vergeet nie.
Die Here sal hom ook seën ter wille van Abraham (Gen 17:20) en die Here het aan
hom besondere sorg gegee (Gen 21:17-21; 25:12-18).
5. Waarom word Jakob en Esau ook as voorbeeld gebruik om aan te toon dat nie
almal Israel is wat uit Israel afstam nie? (vers 10-12)
6. Op grond waarvan is Jakob en nie Esau nie gekies? (vers 11)
Paulus veronderstel ʼn beswaar wat gemaak kan word met die gebruik van Isak en
Ismael as voorbeeld om aan te toon dat nie almal wat van Abraham afstam kinders
van God is nie. Ismael was immers die seun wat Abraham by Hagar die Egiptiese
slavin gehad het. Daarom gaan hy voort om die kring nog kleiner te trek na die twee
seuns wat Isak gehad het.
Esau en Jakob is die twee seuns van Rebekka en Isak. Hulle het dieselfde pa
en ma. Boonop is hulle ook nog ʼn tweeling. Twee mense wat regtig baie naby
11
aan mekaar is. Tog het die Here net een van die twee gekies om die besondere
verhouding van die verbond mee voort te sit – Jakob.
By Jakob en Esau sien ons die soewereine keuse wat God uitgeoefen het. Dit is
dieselfde soewereine keuse waarvan in Romeine 8:28-30 vertel is. Telkens is by
daardie verse opgemerk dat die woorde voorneme en vantevore heenwys na
besluite wat God in die ewigheid nog voor die skepping van die wêreld geneem het.
Daardie besluite voer God in die tyd en in die leeftyd van mense uit.
Aangaande die twee seuns van Isak het God ook reeds ʼn voorneme gehad en Hy
het vantevore verordineer om die verbondsverhouding net met een van die twee
seuns voort te sit. Daarom skryf Paulus: Nog voordat haar kinders gebore is of
iets goeds of kwaads gedoen het, is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste
dien. Dit het gebeur sodat God se voorneme volgens sy uitverkiesing sou bly
staan, nie op grond van mense se dade nie, maar op grond van Hom wat roep.
Die voorneme van God om die verbondsverhouding met Jakob voort te sit en nie
met Esau nie berus slegs op God wat roep en op niks van die mens nie. Die Here
se keuse van Jakob is nie geneem op grond van wie sy ouers was nie, want Esau
het dieselfde ouers. Die Here het sy keuse ook nie geneem op grond van hoe goed
die een teenoor die ander een sou gelyk of sou gevaar het na geboorte nie. Nog
voordat hulle gebore is, het God sy uitspraak oor hulle aan Rebekka bekend
gemaak. Die Here se keuse is ook nie op grond van hoe goed of hoe sleg die een
gedoen of nie gedoen het nie.
Jakob was in wese net so verdorwe soos Esau. Albei van hulle het aards gedink oor
dinge. Dit merk ʼn mens op by die geleentheid toe Jakob die eersgeboortereg in die
hande gekry het. Vir Jakob het dit gaan oor die welvaart en naam wat hy sou hê
teenoor die mindere erfdeel wat Esau sou ontvang. Vir Esau het dit gegaan oor die
oombliklike bevrediging van sy fisiese behoeftes. Albei dink aards – Jakob het net
verder die toekoms ingedink as Esau.
12
God se voorneme om met Jakob die verbondsverhouding voort te sit is dus in
ooreenstemming met sy uitverkiesing wat berus by Hom wat roep. Esau was ook
besny en hy het ook die verbondsbeloftes ontvang. Maar hy het nie sy
verantwoordelikheid in die verbond teenoor die Here vervul nie. Daarom het die
verbondsbeloftes nie vir hom waar geword nie. Daarmee word nie gesê dat Jakob
beter keuses gemaak het nie of dat hy meer verantwoordelik was as Esau nie.
Jakob het riskant geleef. Ondanks sy riskante lewe het die Here sy besluit met
Jakob uitgevoer en hom weldra by die punt gebring waar hy net op die Here alleen
vir sy voortbestaan kon vertrou.
Ter ondersteuning van wat Paulus hier oor Jakob en Esau skryf, haal hy twee
Skrifgedeeltes aan. Eerste die Here se woorde aan Rebekka: Die oudste sal die
jongste dien. En dan ook die Here se eie woorde aan sy volk in die dae van die
profeet Maleagi: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.
7. Hoe moet ʼn mens die woorde wat uit Maleagi aangehaal word, verstaan? (vers
13)
Sommige verstaan met hierdie woorde uit Maleagi dat God vir Esau minder
liefgehad het as vir Jakob. Die feit bly egter staan dat God vir Jakob uitgekies het en
nie vir Esau nie. God se voorneme volgens sy uitverkiesing het daarop uitgeloop dat
Jakob en sy nageslag die voorwerpe geword van God se verbondseën terwyl Esau
en sy nageslag van hierdie seën uitgesluit is.
Haat moet nie as ʼn menslike sondige emosie verstaan word nie. Liefde en haat is
by God nie emosies nie, maar handelinge. In Esau se geval beteken dit dat die
toorn van God oor die sonde op hom en sy nageslag gebly het (Joh 3:36)
terwyl God uit genade aan Jakob en sy nageslag die seën van die
verbondsverhouding geskenk het.
Besprekingsvrae
13
1. Sommige mense redeneer dat as God absoluut soewerein is, is Hy ook
verantwoordelik vir die sondes wat ek doen. Hoe sal jy so iemand vanuit die
Bybel antwoord?
2. Ander mense redeneer weer dat die leer oor die uitverkiesing fatalisme
bevorder: Wat sal wees, sal wees. Hoekom sal ʼn mens nog bid? Hoekom sal jy
nog evangeliseer? Hoe sal jy so iemand vanuit die Bybel antwoord?
3. Nog iemand anders redeneer dat as God mense kan red, maar kies om dit nie te
doen nie, is Hy nie die God van liefde nie. Hoe sal jy vir so iemand aantoon dat
hy verkeerd en selfs lasterlik praat?
4. As iemand vra: Hoe kan ek weet dat God my uitverkies het, hoe sal jy daarop
antwoord?
3. God is soewerein om te verkies – Romeine 9:14-1814Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie! 15Want
aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en
My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. 16So hang dit dan nie af van die een wat
wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. 17Want die
Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag
kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. 18So is Hy
dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.
3.1 Vrae by Romeine 9:14-18
1. Waarom word daar gevra of daar onreg by God is? (vers 14)
Net omdat daar baie Jode is wat nie die evangelie van Christus wil glo nie, beteken
nie dat God se woord aangaande die Jode verval het nie of dat God nou klaar is met
die Jode nie. In verse 6 tot 13 het Paulus vanuit die Skrif aangetoon dat nie elkeen
wat die fisiese nageslag van Abraham is ook sy kind is nie. Die eintlike kind van
Abraham is die kind van die belofte – die kind wat God self met ʼn belofte aan
Abraham toegesê het – Isak.
Oor Isak het God reeds in die ewigheid ʼn besluit geneem gehad en dit in die belofte
by Abraham se roeping aan hom te kenne gegee. Hierdie besluit wat God voor die
14
tyd neem – voordat enigsins iets gebeur het – word nog verder geïllustreer in die
twee seuns van Isak – Jakob en Esau. Nog voordat hulle gebore is en enigiets goed
of kwaad kon gedoen het, het die Here reeds vir Rebekka gesê dat die oudste die
jongste sal dien. God se voorneme en plan met Jakob, soos met Isak, is in
ooreenstemming met sy uitverkiesing – dit gaan dus nie oor wat mense doen of nie
doen nie, maar oor Hom wat mense roep.
Soos in die vorige hoofstukke gaan Paulus voort met die twee gesprek tussen hom
en die denkbeeldige redenaar wat elke keer die teendeel wil bewys. Met
denkbeeldige redenaar word verwys na die argumente wat Paulus gedurende sy
bykans dertig jaar as apostel onder die heidene teëgekom het by veral die Jode. Dit
is die voorbeeld van Jakob en Esau wat twee duidelike vrae ontlok. Die eerste vraag
word in vers 14 tot 18 beantwoord en die tweede vraag in vers 19 tot 24.
Die teendeel wat die redenaar wil aantoon is dat God onregverdig is, want Hy het
dan tussen Ismael en Isak vir Isak uitgekies en tussen Esau en Jakob het Hy vir
Jakob uitgekies. Vanuit die mens se oogpunt – die mens wat meen hy weet wat
regverdig regtig is – lyk dit of God onregverdig gehandel het deur vir Isak bo
Ismael te verkies en Jakob bo Esau. Daarom formuleer Paulus die teendeel met ʼn
vraag: Is daar miskien onreg by God? Op hierdie vraag gee Paulus weer die baie
besliste Nee as antwoord. Daar is hoegenaamd geen manier dat God van onreg
beskuldig kan word nie. Hy is in sy wese regverdig (Job 8:3; 34:10-12; 18-19; Deut
32:4; Ps 145:17; Open 16:7).
Dit is egter nie die eerste keer dat die redenaar God van onreg wil beskuldig nie. In
die vier besware wat in Romeine 3:1-8 gemaak is teen die werkswyse van God het
hy dit ook gedoen. In die derde van die vier besware is daar gesê: Maar as ons
ongeregtigheid die geregtigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is God wat
die toorn oor ons bring, dan nie onregverdig nie? Ek spreek menslikerwys.
Nee, stellig nie! Want hoe sal God anders die wêreld oordeel? (Romein 3:5-6)
15
Dit is die mens self wat hom teenoor God verhard. Die Here roep hom met alle erns
dat hy hom sal bekeer sodat hy kan bly lewe, maar die mens wil hom nie aan God
onderwerp en Hom gehoorsaam nie. Daarom is die mens besig om met sy
verhardheid en onbekeerlike hart vir homself toorn te vergader as ʼn skat in die dag
van toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God (Rom 2:4-5).
2. Hoe word daar aangetoon dat God glad nie onregverdig handel wanneer Hy die
een bo die ander een kies nie? (vers 15 en 16)
3. Wat word met die aanhaling van Eksodus 9:16 aangetoon? (vers 17)
Om aan te toon dat daar by God hoegenaamd geen onreg is nie, haal Paulus
aan wat God aan Moses gesê het nadat die volk hulleself teen die Here verset
het en die goue kalf gemaak het. Aan Moses het die Here gesê dat Hy barmhartig
sal wees teenoor wie Hy barmhartig wil wees en Hy sal Hom ontferm oor wie Hy
Hom wil ontferm (Eks 33:19). Geen mens kan aanspraak maak op die
barmhartigheid en ontferming van die Here nie. Hy gee dit aan wie Hy dit wil gee,
want dit is sy barmhartigheid en ontferming. Hy kan met sy goed maak wat Hy wil.
Op grond van hierdie woorde van die Here aan Moses maak Paulus dan die
gevolgtrekking in vers 16. Dit hang dus glad nie van die mens af wat wil of wat loop
– dit wil sê iets wil doen – nie. Dit hang geheel en al van God af. Hy besluit self oor
wie Hy Hom wil ontferm en aan wie Hy barmhartigheid wil betoon. Uit die konteks
van die Here se woorde aan Moses is dit duidelik dat nie een van die Israeliete die
barmhartigheid en ontferming van die Here waardig is of verdien nie. Daarom, as
die Here dan barmhartigheid en ontferming aan enige een van die Israeliete betoon,
is dit bloot omdat Hy wil.
Wanneer hierdie verse (Rom 9:14-16) in verband met Romeine 9:6-13 gelees word,
sien ʼn mens raak dat hierdie verse betrekking het op die barmhartigheid en
ontferming wat die Here aan Isak en Jakob betoon het. Die grootsheid van die Here
se werk is nie dat Hy vir Ismael en Esau verwerp en gehaat het nie. Die wonder is
dat Hy wel besluit het om aan Isak en Jakob barmhartigheid te betoon. Isak en
16
Jakob was in wese nie beter as Ismael en Esau nie, maar die Here skenk aan Isak
en Jakob barmhartigheid en ontferming wat hulle in werklikheid nie verdien het nie.
In vers 17 word ook die ander kant van God se genadige verkiesing aan ons gewys.
Weer word daar uit Eksodus aangehaal en hierdie keer oor wat die Here in verband
met die farao gesê het. Dit is woorde wat Moses aan die farao moes sê voordat die
sewende plaag aangekondig is. Die Here laat die farao dit baie goed verstaan dat
Hy by magte is om die farao en sy hele volk met die pes te tref sodat die hele spul
van hulle met een slag sterf.
Die Here het egter nog nie hierdie mag oor die farao en sy volk uitgeoefen nie. Dan
gee die Here die rede vir die farao waarom Hy dit nog nie gedoen het nie. Die Here
laat die farao en sy volk nog bestaan, want die Here wil sy krag aan hom toon.
Farao moet geensins twyfel of wonder of die Here wel almagtig is nie. In alles
wat die Here in die komende plae nog gaan doen, sal die farao weet dat God
almagtig is. Maar nie net hy sal dit weet nie. Almal op die hele aarde sal dit weet
en almal sal weet dat dit die Here die God van Israel is wat dit gedoen het .
Orals op die hele aarde sal mense van die Here en sy almag vertel.
Die Here self het vir farao hardkoppig gemaak, so het Hy twee keer te vore aan
Moses gesê sal Hy met die farao doen (Eks 4:21; 7:3). Dit is nie dat die farao
homself eers teen die Here verhef het en toe het die Here hom hardkoppig gemaak
nie. Die Here het die farao hardkoppig gemaak sodat hy homself nog meer teen
God kan verhef. Die Here is vrymagtig om mense op so ʼn wyse te gebruik dat Hy sy
doel kan bereik en sy doel is om Homself te verheerlik. Hy het die farao verhard
sodat die farao en die hele wêreld kan weet dat die God van Israel werklik almagtig
is.
4. Tot watter gevolgtrekking word daar gekom? (vers 18)
Die gevolgtrekking waartoe Paulus dan kom na aanleiding van albei die kante van
God – sy genadige verkiesing en sy regverdige veroordeling – is dat die Here
17
barmhartig is oor wie Hy barmhartig wil wees en Hy verhard wie Hy wil
verhard.
Die Here alleen is God – Hy is soewerein en is aan niemand enige verantwoording
verskuldig oor wat Hy doen nie. Wat Hy ook al doen, doen Hy om Homself te
verheerlik. Daarom is Hy by magte om Homself te ontferm oor die mense oor wie
Hy Hom wil ontferm al verdien hulle glad nie sy ontferming nie. Hy is ook by magte
om mense hardkoppig te maak sodat hulle hulle nie aan die Here en sy Woord sal
steur nie. Al wat die Here doen is om sy genade van so ʼn mens te onttrek sodat die
mens in sy natuurlike geaardheid voortgaan teenoor die Here. Wat die mense
verder in sy hardkoppigheid doen, is sy eie verantwoordelikheid waarvoor hy voor
die Here verantwoording verskuldig is.
Besprekingsvrae
1. Beteken God se liefde dat alle mense moet red? Motiveer jou antwoord
vanuit die Bybel.
2. Hoe sal jy iemand help wat sê dat God willekeurig in sy keuse is om sommige
te red en ander te verwerp?
3. Sal God sy genade gee aan almal wat daarvoor smeek of sal Hy dit weerhou
van sommige wat dit graag wil hê? Motiveer jou antwoord vanuit die Bybel.
4. Hoe sal jy iemand help wat sê: Ek neem dus aan dat nie een van die
uitverkorenes is nie?
4. God se barmhartigheid teenoor Israel – Romeine 9:19-2919Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil
weerstaan? 20Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die
maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? 21Of
het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een
voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? 22En as God, al wil Hy sy
toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die
voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, 23juis om
bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van
18
barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, 24ons naamlik wat Hy
geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? 25Soos Hy
ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat
nie bemin is nie, beminde; 26en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie
my volk nie! daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God. 27En
Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die
sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word; 28want Hy volbring ʼn saak
en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here ʼn saak wat verkort is, op die
aarde sal doen. 29En soos Jesaja tevore gesê het: As die Here van die
leërskare vir ons nie ʼn nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom sou ons
geword het en aan Gomorra gelyk gewees het.
4.1 Vrae by Romeine 9:19-29
1. Wat wil die redenaar met sy vraag in vers 19 bewys?
In vers 19 laat Paulus weer die beswaar van die denkbeeldige redenaar hoor: Jy sal
dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?
Met ander woorde, as God dan self besluit aan wie Hy barmhartigheid wil bewys en
vir wie Hy wil verhard, dan kan ek mos niks daaraan doen nie. Dit is Hy wat die
besluit geneem het, maar hoe kan Hy dan nog die mens verwyt wat hom teen die
Here verhard?
Dit is egter nie die eerste maal dat hierdie argument gehoor word nie. In Romeine 3
al het Paulus vier besware van die ongelowige Jode verwoord. En die vierde
beswaar in Romeine 3:7 het so gelui: Maar as die waarheid van God deur my
leuen oorvloediger geword het tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as
sondaar geoordeel?
Met hierdie vraag in Romeine 9:19 wil die teenstander die mens van sy
verantwoordelikheid vrystel. Die Here is mos die Een wat die besluit oor my
geneem het en daar is niks wat ek kan doen om daardie besluit te verander nie. Met
so ʼn redenasie wil die mens homself as ʼn weerlose skepsel voorstel teenoor die
19
almagtige God. Dit doen hy, nie om God te verheerlik nie, maar eerder om die skuld
vir sy eie hardkoppigheid op die Here te pak.
2. Hoe word die redenaar tereggewys? (vers 20)
Die vraag van vers 19 word nie geantwoord soos verwag word nie. Die redenaar
word eerder op sy plek voor God gewys. Hy word gevra: Mens, wie is jy om
God tot verantwoording te roep? (Rom 9:20) Die mens kan tog so maklik dink dat
hy en God op gelyke voet is, daarom dink hy hy kan verantwoording van die Here eis
oor die wyse waarop God met die mens te werk gaan. Die mens het hoegenaamd
nie die reg om van God verantwoording te eis nie.
Die mens wat dit waag om God tot verantwoording te roep, het heeltemal te ver
gegaan en sal beslis nie stand kan hou teen die Here nie. Job het dit in sy
waagmoed probeer. Die Here het Job se waagmoed tot in ʼn stadium geduld en toe
vir hom gesê: As jy dan so baie weet, Job, en as jy by magte is om sulke goeie
besluite te neem, kom staan voor My. Maak jou gereed. Ek sal vir jou die vrae vra
en dan antwoord jy My – dan onderrig jy vir My (Job 38:2-3; 40:2, 5). Einde ten
laaste moes Job sy aangesig in skaamte voor die Here buig en bely dat hy homself
te groot gehou het vir sy skoene (Job 42:2-6).
3. Tot watter besef behoort die mens te kom met die tweede vraag in vers 20?
4. Wat leer ons van God in vers 21?
Met die volgende vraag in vers 20 word die mens op die plek gesit wat hy
eintlik voor God het. Die mens is alleenlik maar ʼn maaksel van God se hand. Hoe
kan die maaksel nou vir die maker vra: Waarom het u my so gemaak?
Hierdie beeld van die pottebakker en die klei word dikwels in die Skrif gebruik deur
die Here (Job 10:8-9; Jes 29:16; 41:25; 45:9; 64:8; Jer 18:1-12). God as die
pottebakker het alle reg om van die klei ʼn voorwerp te maak vir sy doel, naamlik om
Homself te verheerlik.
20
God is absoluut soewerein en dit word met die beeld van die pottebakker
geïllustreer. Uit dieselfde klomp klei kan die pottebakker ʼn voorwerp maak wat vir
eervolle gebruik aangewend word sowel as ʼn voorwerp wat vir oneervolle gebruik
aangewend word. En in albei gevalle word die pottebakker geëer, want die
onderskeie voorwerpe voldoen aan die vereistes waarvoor dit gemaak is.
Uit dieselfde mensdom – en dit is iets wat ʼn mens goed moet raaksien; alle mense is
ewe skuldig en ewe verlore voor die Here (Rom 3:9-21) – kan God dan mense vir
oneervolle gebruik aanwend en vir eervolle gebruik voorberei. Hy kan Homself
verheerlik deur die een sondaar regverdig oor te laat aan sy eie misdade en deur die
ander sondaar in genade aan te sien en Hom oor die sondaar te ontferm.
5. Watter woord word in vers 22 en 23 herhaal?
In vers 22 en 23 stel Paulus ʼn retoriese vraag oor die vryheid wat God het om aan
sommige barmhartigheid te bewys en ander te verhard sodat dit duidelik is dat Hy in
volle ooreenstemming met sy regverdigheid optree. Alles wat God doen is in
volmaakte harmonie met wie Hy is.
Vers 22 en 23 is parallel aan mekaar sodat ons kan verstaan dat God in volmaakte
harmonie met wie Hy is optree met die mens. Die woord wat in albei die verse
voorkom, is die werkwoord “bekend maak”. In vers 22 word gesê dat God sy
toorn en mag bekend maak oor die voorwerpe van toorn en in vers 23 word gesê dat
God die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van
barmhartigheid. Met hierdie retoriese vraag wys Paulus daarop dat God in
volmaakte harmonie met wie Hy is optree, daarom kan daar geen beswaar wees
teen God se handelinge nie.
6. Hoekom voltrek die Here sy oordeel nie dadelik oor die voorwerpe van toorn
nie? (vers 22)
21
7. Hoe moet ʼn mens die woorde toeberei en voorberei in vers 22 en 23
verstaan?
8. Hoe moet ʼn mens die afhanklikheid/ondergeskriktheid van vers 23 en vers 22
verstaan?
Alhoewel die twee verse (vers 22 en 23) parallel is, is daar duidelike en
betekenisvolle verskille waarna ʼn mens moet oplet. Aangaande die voorwerpe van
toorn – dit is die mense wat in ongehoorsaamheid teenoor die Here lewe – word
daar gesê dat die Here groot lankmoedigheid betoon. Alhoewel die sondaars
verdien om onmiddellik deur die Here veroordeel te word vanweë hulle misdade, is
Hy lankmoedig oor hulle.
Die Here betoon aan die een kant lankmoedigheid oor hierdie mense sodat
hulle nog die geleentheid het om hulle te bekeer en te glo (vgl. 2 Pet 3:9). Aan
die ander kant betoon die Here sy lankmoedigheid sodat die verskriklikheid en
regverdigheid van sy oordeel ook vir alle mense duidelik sal wees. So het God
met die farao gehandel en so doen Hy vandag steeds.
Om die twee woorde toeberei en voorberei te verstaan, moet ʼn mens oplet hoe dit
geskryf staan. In vers 23 sê die Heilige Gees dat die Here self die voorwerpe van
barmhartigheid voorberei het het tot heerlikheid. In vers 22 word slegs gesê dat
die voorwerpe van toorn vir die verderf toeberei is. Dit wil sê, die maat van hulle
sonde het vol geword, hulle het ryp geword vir die oordeel en dit is iets wat hulle
aan hulleself gedoen het.
Alhoewel die twee verse parallel is, is dit ook duidelik dat vers 23 ondergeskik is aan
vers 22. Deurdat die Here lankmoedig is teenoor die voorwerpe van toorn wat
hulleself vir die oordeel rypmaak – al sou die Here regverdig wees om hulle te
veroordeel – stel ons in staat om in te sien hoe oneindig groot die Here se
barmhartigheid is oor die voorwerpe van barmhartigheid.
22
9. Uit watter mense almal het God as voorwerpe van barmhartigheid voorberei
tot heerlikheid? (vers 24)
10.Hoekom kan die twee aanhalings uit Hosea van toepassing wees op die
mense wat God uit die heidene geroep het? (vers 25 en 26)
Die Here maak nie net sy toorn oor die voorwerpe van toorn bekend nie. Juis met sy
lankmoedigheid teenoor die voorwerpe van toorn, maak Hy die rykdom van sy
heerlikheid bekend oor die voorwerpe van barmhartigheid. Die vraag wat
veronderstel word, is: Wie is hierdie voorwerpe van barmhartigheid? Is dit net die
Jode? Is dit al die Jode? Is daar heidene wat ook voorwerpe van barmhartigheid is?
In vers 24 gaan Paulus dadelik daartoe oor om te kwalifiseer wie is die mense wat
voorwerpe van God se barmhartigheid is. Dit is ons wat Hy geroep het. Hierdie
roep is nie maar net die algemene roepstem wat deur die evangelie na alle mense
uitgaan nie. Dit is die besondere roep van die Here wat die verandering in die lewe
van die voorwerpe van barmhartigheid veroorsaak. Hierdie voorwerpe van
barmhartigheid is nie net uit die Jode geroep nie, maar ook uit die heidene.
Hier word weereens bevestig dat God se woord ten opsigte van die Jode nie tot niet
geraak het nie. Die Here is nog nie klaar met die Jode nie. In verse 27 tot 29 sal
Paulus vanuit die Ou Testament nog duideliker aantoon aangaande die Jode wat
geroep is as voorwerpe van barmhartigheid.
Aan die ander kant is die Jode nie alleen die voorwerpe van barmhartigheid wat
geroep is nie. Daar is ook heidene wat die Here as voorwerpe van barmhartigheid
gekies en geroep het. Dat die heidene ook voorwerpe van barmhartigheid is wat
geroep is, toon Paulus ook uit die Ou Testament aan in verse 25 en 26.
23