96
KINDERDOOP, NAGMAAL en BEGRAFNISDIENSTE UCCSA/ELD 1980

sasynod.org.zasasynod.org.za/images/documents/resources/Liturgical... · Web viewVir julle wat my naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels

  • Upload
    others

  • View
    1

  • Download
    0

Embed Size (px)

Citation preview

KINDERDOOP,

NAGMAAL

en

BEGRAFNISDIENSTE

UCCSA/ELD

1980

Saamgestel deur:

Die Liturgiese Komitee van

The United Congregational Church of Southern Africa

Uitgegee deur:

The Ecumenical Literature Distribution Trust

Posbus 2115, Johannesburg 2000

Kopiereg:

The United Congregational Church of Southern Africa

Posbus 96014

BRIXTON

2019

ISBN 0 86881072 X

Alle regte voorbehou.

INHOUD

Erkennings................................................................................................4

DIE KINGERDOOP................................................................................6

DIE NAGMAAL.......................................................................................19

AANHANGSEL.......................................................................................51

Skrifgedeeltes en Gebede vir die

Christelike Jaargang en ander Spesiale Geleenthede

DIE BEGRAFNISDIENS........................................................................75

ERKENNINGS

Die samestellers wil in erkentlikheid ‘n hartlike woord van dank rig aan die volgende vir die gebruik van materiaal wat aan kopiereg onderhewig is, in vertaalde en somtyds effens aangepasde vorm:

Geoffrey Chapman Publishers, vir die gebede by die Offerande en die Toejuiging in die Nagmaaldiens;

The Church of the Province of South Africa, vir die Afrikaanse weergawes van die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicéa, die Sursum Corda en die Santus, uit Liturgie 1975;

Alan Gaunt en John Paul the Preacher’s Press vir die Bevestigings in die Nagmaaldiens, “Ons aanbid God die Vader....” en Ons bevestig ons geloof....”, uit New Prayers for Public Worship;

Die Registrateurs van die provinsies van Canterbury en York, vir die Inleiding tot die diens vir Kinderdoop en vir die Eerste gebed in daardie diens, uit Alternative Services, Series 3, Initiation Services, van die Algemene Sinode van die Church of England;

The Student Christian Movement Press, Ltd, vir die paragraaf, “Ons dank U dat Jesus onder ons gebore is...........,” uit Contemporary Prayers for Public Worship, onder die redaksie van Caryl Micklem;

The United Reformed Church in England and Wales, vir die vrae aan die ouers en sommige van die gebede in die diens vir Kinderdoop, uit die Order of Worship for Baptism of Infants; ook vir die Dankseggingsgebed uit New Church Praise, en vir die gesang, “Vir dierb’res eens op aard’ vereen” in die Nagmaaldiens.

Aanhalings uit die Bybel is, in die geval van die Nuwe Testament en Psalms, afkomstig uit die 1979-Vertaling, Die Nuwe Testament en die Psalms, en aanhalings uit die res van die Ou Testament is geneem uit Die Bybel in Afrikaans, kopiereg deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. In een of twee gevalle is die vertaling effens gewysig.

Die gesang aan die einde van die Nagmaaldiens is deur mnr. JH Smit vertaal.

Indien daar per ongeluk in gebreke gebly sou wees om enige bron van materiaal wat gebruik is te erken, word verskoning aangebied. Indien dit onder aandag gebring word, sal dit in die Eerste uitgawe daarna reggestel word.

DIE

KINDERDOOP

VOORWOORD

DIE DOOP word in die teenwoordigheid van die gemeente bedien, gedurende die Sondaggodsdiens, en gewoonweg in die afdeling, “DIE WOORD VAN GOD”, óf na die Skriflesing, óf na die die Preek.

Die Skriflesings is dié vir daardie dag bepaal of onderskeidelik Esegiël 36:24-28, Romeine 6:3-11 en Johannes 3:1-17. Ander geskikte gedeeltes kan ook in plaas daarvan gebruik word.

Wanneer verskeie kinders gedurende dieselfde diens gedoop moet word, om nie die diens onnodig te verleng nie, kan die Leraar die ouers en die bevorderaars gesamentlik ondervra (5, 6), en elke familie antwoord dan afsonderlik. So kan die gemeente se verwelkoming (16) ook net een keer gedoen word, wanneer al die pasgedoopte kinders voorgestel word.

Geloofsbelydenis (11): Aangesien die Apostoliese Geloofsbelydenis tradisioneel deur die grootste gedeelte van die Westerse Kerk gebruik word vir die belydenis gedurende die Doop, word dit vir opsionele gebruik in hierdie diens ingesluit.

Wanneer die Doop gedurende die Nagmaaldiens plaasvind en hierdie geloofsbelydenis tydens die Doop gedoen word, word die Geloofsbelydenis in die Nagmaaldiens (21) natuurlik weggelaat.

Die Gebede (20-25): Wanneer die Doop gedurende die Nagmaaldiens plaasvind, kan die Voorbidding (24.1-6) in laasgenoemde diens weggelaat word, en die Onse-Vader gebed (24) gedurende die Doop moet dan ook weggelaat word.

Dele van die diens wat nommers tussen hakies het, is opsioneel.

Bevorderaars: Hierdie diens maak uitdruklike voorsiening dat die doopouers deur bevorderaars bygestaan en ondersteun word. Hulle verpligtinge word in die vraag (6) uiteengesit waarin hulle gevra word om die kind se ouers te help om hom/haar in die geloof en gemeenskap van die Kerk op te voed. Hul funksie is dus nie om die ouers se verantwoordelikhede oor te neem nie, maar om namens die gemeente die ouers by te staan sodat hulle hul verantwoordelikhede kan nakom. Dit is moeilik – of wel onmoontlik – vir die hele gemeente om ten volle herderlike toesig oor die kind te hou. Nogtans is dit van die grootste belang, as kinders in die beoefening van die Christelike lewe opgevoed moet word. Gevolglik beveel die samestellers aan dat die eeu-oue instelling van bevorderaars (wat ten minste tot die einde van die tweede eeu n.C. teruggaan) weer in ons gemeentes in gebruik word.

Bevorderaars behoort goedstaande lede van die gemeente te wees, wat deur die kerkraad aangestel is, en aan wie hulle vir die kind se geestelike opvoeding verantwoordelik is, en ook aan wie hulle gereeld verslag moet gee. Hulle behoort dus volwasse Christene te wees, bekwaam en bereidwillig om die ouers in die opbouing van die kind se geestelike lewe by te staan.

In gevalle waar die familie na ‘n ander plek, en dus na ‘n ander gemeente vertrek, behoort nuwe bevorderaars aangestel te word, sodat herderlike bediening voortgesit word, totdat die kind vir eie getuienis van geloof gereed is.

Voorbereiding: Ons insiens, is dit VAN DIE UITERSE BELANG dat alle ouers vir die doop van hul kinders goed voorberei word. Die implikasies van die vrae wat aan hulle gestel sal word en die beloftes wat hulle sal maak (5) behoort minstens ingesluit te word. Dit mag ook paslik wees om gedurende hierdie voorbereiding die doopouers aan die bevorderaars voor te stel, en om laasgenoemde aan hul verantwoordelikhede te herinner.

HIERDIE DIENS is hoofsaaklik gebaseer op ‘n ontwerp van die Liturgiese Komitee van die Church Unity Commission. Die lede van die Liturgiese Komitee van die United Congregational Church of Southern Africa is baie dankbaar vir vergunning om daardie ontwerp te gebruik. Hulle wil graag ook hulle waardering uitspreek vir die Alternative Services, Series 3, Initiation Services, van die Algemene Sinode van die Church of England, en die Order of Worship or the Baptism of Infants van die United Reformed Church of England and Wales. Die feit dat sommige daarvan aangepas is vir die gebruik in hierdie diens verminder geensins ons verskuldigheid aan hulle nie.

METTERTYD SAL daar ‘n diensorde vir die Doop van Gelowiges opgestel word om ‘n diensorde vir die Aanname in Volle Kerklidmaatskap te vergesel.

DIE LITURGIESE Komitee bied hierdie diensorde aan met die bede dat dit sal ons mense help tot waardiger deelname aan die edele plegtigheid van die Christelike Doop, en dat God die gebruik daarvan in ons gemeentes sal seën, tot sy ewige lof.

DIE KINDERDOOP

(Doopgesang)

INLEIDING

BEVESTIGING

Vrae aan:

Die Ouers

Die Bevorderaars

Die Gemeente

DIE DOOP

Versie en Antwoorde

Gebed

(Die Apostoliese Geloofsbelydenis)

Die Benaming

Die Doop

Die Seën van die Kind

DIE VOORSTELLING EN VERWELKOMING

DIE GEBEDE

Gebed vir:

Die Kind

Die Ouers

Die Bevorderaars

Die gemeente

(Die Onse-Vader Gebed)

(Die Seën)

Die gedeeltes deur die Leraar gespreek is in Kleinletters geset.

Die gedeeltes deur die Gemeente gespreek is vetgedruk.

Die gedeeltes deur DIE LERAAR EN GEMEENTE saamgesproke is in VET HOOFLETTERS geset.

DIE KINDERDOOP

1. Na die Skriflesing of na die Preek bring die ouers, vergesel deur die bevorderaars, hulle kind(ers) na die doopvont.

(2) ‘n Doopgesang kan gesing word.

3. INLEIDING

Na sy opstanding het onse Here Jesus Christus aan sy dissipels gesê:

Aan my is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En onthou: ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

Op Pinksterdag het die apostel Petrus op die mense ‘n beroep gedoen:

Bekeer julle, en laat julle doop in die Naam van Jesus Christus, sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na hom toe sal roep.

Broers en susters in Jesus Christus, deur die geboorte van kinders gee God aan die ouers ‘n deel in die skeppingsdaad en die vreugde daarvan. Maar almal wat uit aardse ouers gebore is, moet ‘n wedergeboorte ondergaan. Jesus sê:”..As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.” God belowe ons dus ‘n deel in sy nuwe skepping en in die verbond van genade, en skenk ons die Heilige Gees, sodat ons in eenheid met hom mag lewe.

Die Doop is die teken en seël van hierdie nuwe geboorte, van ons toetrede tot die verbond, en van ons lidmaatskap in Christus se Kerk, wanneer hy ons van dood tot lewe bring en ons deelnemers in sy opstanding maak sodat ons as erfgename van sy koninkryk kan lewe.

Deur die Doop tree ons kinders toe tot die gesin van die Kerk. Terwyl hulle groot word, benodig hulle die hulp, die voorbeeld en die aanmoediging van hierdie huisgesin, sodat hulle mag leer om in kerkgang en private gebed getrou te wees, asook om deur geloof in God te leef. Hulle vertrou dus op hul ouers, hul bevorderaars en die gemeente om hulle te leer, te lei en te sorg, sodat hulle tot eie getuienis van die Christelike geloof gebring kan word, en om Christus in sy Kerk en in die wêreld te dien.

BEVESTIGING

4. Die Leraar stel die vrae aan die ouers en bevorderaars van elke kind agtereenvolgens.

(4.1) (Wanneer verskeie kinders gedoop moet word, kan hy die vrae aan die ouers en bevorderaars gesamentlik stel, en elke familie antwoord dan afsonderlik.)

5. Aan die ouers sê die Leraar:

M en N, u het u kind vir die Doop gebring. Glo u en vertrou u in God die Vader as u Vader?

Die ouers antwoord: Ons glo en vertrou.

Glo u en vertrou u in God die Seun as u Verlosser en Heer?

Die ouers antwoord: Ons glo en vertrou.

Glo u en vertrou u in God die Heilige Gees as u Ondersteuner en Leidsman?

Die ouers antwoord: Ons glo en vertrou.

Belowe u om met die hulp van God ‘n Christelike tuiste aan u kind te verskaf, waar hy/sy deur u voorbeeld te volg, sal kan leer om sy/haar vertroue in Jesus Christus te stel, en vir hom te leef? En belowe u om hom/haar in die godsdiens en lering van die Kerk op te voed, en hom/haar aan te moedig om ten volle in die Kerk se lewe en bediening in die wêreld deel te hê?

Die ouers antwoord: Met Gods hulp, belowe ons.

6. Aan die bevorderaars: sê die Leraar;

Sal u, M en N, hierdie kind se ouers help om hom/haar in die geloof en gemeenskap van die Kerk op te voed?

Die bevorderaars antwoord: Met Gods hulp, belowe ons.

7. Nadat al die ouers en bevorderaars geantwoord het, vra die Leraar vir die gemeente:

Sal u, Gods volk in dié gemeente, hierdie kind ontvang? Sal u vir hom/haar en sy ouers bid? Sal u hom/haar in die geloof van Christus opvoed deur hier so ‘n gemeenskap van aanbidding en diens te handhaaf dat hy/sy en al die kinders van die gemeente mag opgroei in die kennis en genade van God, in die liefde en diens van sy Seun; en in die gemeenskap van die Heilige Gees?

Die Gemeente antwoord: Ons sal met Gods hulp.

DIE DOOP

8. Loof God, die Skepper van hemel en aarde;

Hy behou sy beloftes vir ewig.

9. Laat ons bid.

Almagtige, God,

ons dank U dat u Seun, Jesus Christus,

in die Jordaanrivier gedoop is.

Ons dank U

dat U hom deur die diepe waters van die dode gebring het,

en hom seëvierend tot die lewe opgewek het.

Ons dank U

dat in hom U vir ons die wedergeboorte gee,

deur water en die Heilige Gees.

Halleluja!

Seën hierdie water,

sodat hierdie kind wat hierin gedoop word

een met Christus kan word

in sy dood en opstanding,

om van alle sondes gereinig en verlos te word.

Skenk vir hom/haar u Heilige Gees,

om hom/haar tot nuwe geboorte in die gesin van u Kerk te bring

en hom/haar met Christus tot volle en ewige lewe op te wek.

Aan U kom toe alle mag, majesteit,

heerskappy en krag tot in alle ewigheid!

10. Die gemeente staan.

11. Laat ons ons geloof bevestig.

EK GLO IN GOD DIE VADER, DIE ALMAGTIGE,

SKEPPER VAN DIE HEMEL EN DIE AARDE

EK GLO IN JESUS CHRISTUS,

SY ENIGGEBORE SEUN, ONSE HERE.

HY IS ONTVANG DEUR DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES

EN IS UIT DIE MAAGD MARIA GEBORE.

HY HET GELY ONDER PONTIUS PILATUS,

EN IS GEKRUISIG, GESTORWE EN BEGRAWE

HY HET NEERGEDAAL NA DIE DODERYK.

OP DIE DERDE DAG HET HY WEER OPGESTAAN.

HY HET OPGEVAAR NA DIE HEMEL EN SIT AAN DIE

REGTERHAND VAN DIE VADER.

HY SAL WEER KOM OM DIE LEWENDE EN DIE DODE TE OORDEEL.

EK GLO IN DIE HEILIGE GEES.

EK GLO IN DIE HEILIGE, KATOLIEKE KERK.

DIE GEMEENSKAP VAN DIE HEILIGES, DIE VERGEWING

VAN SONDES, DIE WEDEROPSTANDING VAN DIE LIGGAAM.

EN DIE EWIGE LEWE. AMEN.

(11.1) Wanneer die Doop gedurende die Nagmaaldiens plaasvind, word die Geloofsbelydenis in laasgenoemde weggelaat.

12. Die Leraar ontvang die kind, en vra:

Noem hierdie kind.

Die ouer gee die kind se naam/name.

13. Die Leraar doop die kind deur die water drie keer oor hom/haar te stort of besprinkel, een keer met die noem van elk van die Persone van die Drieëenheid:

N……ek doop u

in die Naam van die Vader,

en van die Seun,

en van die Heilige Gees. Amen.

14. Die Leraar seën die kind:

Die Here seën en behoed u;

Die Here laat sy aangesig oor u skyn en u genadig wees;

Die Here verhef sy aangesig oor u en gee u vrede. Amen.

(OF hierdie seën kan deur die gemeente gesing word.)

DIE VOORSTELLING EN VERWELKOMING

15. Die Leraar stel die kind aan die gemeente voor:

U is getuie dat N….in Christus ontvang is, as ‘n huisgenoot van God. Bid en sorg vir hom/haar, sodat hy/sy in genade mag toeneem, en aan Christus lewe lank getrou bly.

16. As verteenwoordigers van die ganse Kerk, verwelkom die gemeente die pasgedoopte kind:

Wees welkom as ‘n lid van die huisgesin van God.

17. Die Leraar gee die kind terug aan die ouers, met die woorde:

In hierdie hoë en heilige taak wat hy op u gelê het, mag die Here self met u wees. Mag sy belofte tot u waar wees: “Wie so ‘n kindjie in my naam ontvang, ontvang my.”

18. (Wanneer verskeie kinders gedoop word, kan die Leraar hulle gesamentlik aan die gemeente voorstel:)

U is getuies dat hierdie kinders in Christus ontvang is, as huisgenote van God. Bid en sorg vir hulle, sodat hulle in genade mag toeneem, en aan Christus lewenslank getrou bly.

En dan word die verwelkoming net eenmaal gesê:

Wees welkom as lede van die huisgesin van God.)

19. Die gemeente mag sit.

DIE GEBEDE

20. Here God, onse Vader, Skepper van die hemel en aarde,

ons dank U dat deur u Heilige Gees

hierdie kind tot ‘n nuwe lewe gebore is,

as u eie aangeneem is, en in die gemeenskap van u Kerk ontvang is.

Beskerm hom/haar altyd in u liefde.

Gee dat hy/sy ‘n ware en getroue dissipel van Jesus Christus, sy Heer, word. Amen.

21. Ons dank U vir u genade teenoor hierdie ouers,

vir die lewe wat U geskenk het, en vir dié wat U gespaar het.

Help hulle om die beloftes wat hulle vandag gemaak het, na te kom.

Mag hul liefde vir hul kind u liefde weerspieël.

Mag hulle hom/haar u waarheid leer en in al u weë lei,

deur Christus Jesus, onse Here. Amen.

22. Seën die bevorderaars in hul ondersteuning van die ouers,

in hierdie kind se opvoeding in die Kerk se geloof en gemeenskap.

Mag hulle vreugde in hul taak ondervind,

met die wete dat wat hulle aan die kind doen,

doen hulle ook aan U, om Jesus ontwil. Amen.

23. Ons dank U vir die huisgesin van geloof

en die gemeenskap wat ons deel

met almal wat in Christus gedoop is.

Help ons om getrou aan ons doop te wees.

Gee dat ons in die wêreld

getuies tot u waarheid

en u liefde vir alle mnse mag wees.

En berei ons voor vir die dag

wanneer die hele skepping in u Seun,

onse Heiland, Jesus Christus, volmaak sal wees. Amen.

24. En soos Christus ons geleer het, sê ons met vertroue:

ONSE VADER WAT IN DIE HEMEL IS,

LAAT U NAAM GEHEILIG WORD,

LAAT U KONINKRYK KOM,

LAAT U WIL GESKIED,

SOOS IN DIE HEMEL NET SO OOK OP DIE AARDE,

GEE ONS VANDAG ONS DAAGLIKSE BROOD;

EN VERGEEF ONS ONS SKULDE SOOS ONS OOK ONS

SKULDENAARS VERGEWE.

EN LEI ONS NIE IN VERSOEKING NIE,

MAAR VERLOS ONS VAN DIE BOSE,

WANT AAN U BEHOORT DIE KONINKRYK,

EN DIE KRAG, EN DIE HEERLIKHEID,

TOT IN EWIGHEID.

AMEN.

25. Die genade van onse Here Jesus Christus,

en die liefde van God,

en die gemeenskap van die Heilige Gees,

sy met ons almal. Amen.

26. As dit nie alreeds gedoen is nie, kan ‘n doopgesang hier gesing word.

DIE

NAGMAAL

VOORWOORD

HIERDIE diensorde is nie bedoel slegs vir gebruik by Kerkordelike geleenthede nie, maar ook in die plaaslike gemeentes.

In wese is dit liturgies: die gedeeltes volg logies op mekaar.

Deurgaans maak dit ook voorsiening vir die gemeente om ten volle deel te neem. In sommige gemeentes van ons Kerk sal dit nuwe elemente in ons aanbidding wees, waar, behalwe die Onse Vader-gebed en die “Amen” na die Seën, gemeentelike deelname nie gebruiklik is nie. Nietemin in Congregationalisme – miskien meer as in enige ander vertakking van die Christelike Kerk – behoort dit ‘n kenmerk van aanbidding te wees! Hierdie diens is dan ook so beplan dat ons lede hul regmatige aandeel sal hê.

Alhoewel die diens begryplikerwys hoofsaaklik vir gebruik tydens die bediening van die Sakrament van die Nagmaal bedoel is, kan dit by ander geleenthede ook gebruik word. In so ‘n geval moet afdeling 25-49 weggelaat word, en die Voorbidding (24) moet deur die Offergawes, die Dankgebede (afgesluit met Onse Vader-gebed), en ‘n Gesang gevolg word.

Dele van die diens wat nommers tussen hakkies het, is opsioneel.

DAAR IS verskillende ander aangeleenthede waarop die samestellers van die diensorde aandag wil vestig.

1. In die Skrifgedeeltes (4), die Lofgebed (6) en die Gebed vir die Genade van God (9) maak die rubrieke voorsiening vir sinne en gebede wat by die tye van die Christelike Jaargang of by spesiale geleenthede in die plaaslike gemeente pas. Hierdie sinne en gebede (saam met dié by die Opening en Afsluiting van die Assembly of ‘n streeksraad) vorm ‘n AANHANGSEL (bladsye 51-74) tot die diens. Gedurende die verskillende tye kan dit ook in eredienste, waar die Nagmaal nie bedien word nie, gebruik word, om sodoende die aanbidding van ons mense te verryk.

2. In hierdie diensorde is daar geen vermelding aangaande die houding wat vir gebed ingeneem moet word nie. Alhoewel die sitgeriewe in die meeste van ons kerke hulle nie tot gemaklike kniel verleen nie, moet diegene wat gedurende gebed graag wil kniel, daartoe aangemoedig word, aangesien dit altyd as die mees gepaste houding beskou word. Daarenteen kan die mense in sommige gevalle – soos, byvoorbeeld, die gebed by die Offerande (33) en die Dankseggingsgebed (35) - gevra word om te staan.

3. Die samestellers wens verder betreffende gebede die aandag op die gebruik van die AMEN te vestig. Die term beteken “Mag dit so wees” – met ander woorde, dit is die gemeente se beaming op die gebed wat die leraar namens hulle offer. “Die hele volk moet sê: “Amen!” (Ps. 106: 48) behoort as reël vir al ons aanbiddingsgeleenthede te geld. Dit beteken dan dat dit nooit deur die persoon wat die gebed lei, gesê moet word nie, maar eerder deur hulle wat daarin deel deur daarna te luister. Daarenteen waar die hele gemeente die gebed saambid (bv. Die Ons Vader-gebed) moet, dit natuurlik geheel-en-al weggelaat word.

Maar deur “Amen” te sê, doen die gemeente meer as net om hul met die gebed te vereenselwig. Hiermee word ook uitdrukking aan die priesterskap van alle gelowiges gegee, omdat dié woord impliseer dat almal aktief hul regmatige aandeel in elk van die gebede het.

4. Om verder hierdie uitgangspunt van die priesterskap van alle gelowiges te beklemtoon, word daar vir andere ook voorsiening in die diens gemaak, afgesien van die Leraar, om deel te neem aan die waarneming van die diens, veral met die lees van die Skrif (13-15), die Voorbede (24) en die Hertoewyding (38). Iemand anders as die Leraar kan ook die Dankseggingsgebed (35) of die Slotgebed (45) lei. (In hierdie verband sien ook 11 hieronder.)

Ons is oortuig dat in elke erediens elke poging aangewend moet word om meer van ons mense te betrek. Maar daaroor wil ons ook dit streng beklemtoon dat almal wat uitgenooi word om op hierdie manier deel te neem, vroegtydig in kennis gestel moet word, sodat hulle hulself kan voorberei om Gods gemeente in daardie aspekte van die erediens te lei, wat aan hulle toevertrou word. Verder moet diegene wat vir die Voorbede verantwoordelik is, die strekking van hierdie gebede in ag neem, en hulle daarby bepaal.

5. Die Skriflesing (13-15): Die ideale erediens sluit gedeeltes uit die Ou en Nuwe Testament en die Evangelies in. Waar dit egter nodig is om die diens in te kort, kan óf die Ou óf die Nuwe Testamentiese gedeelte – of selfs albei – weggelaat word, maar NIE die Evangelie nie.

6. Alternatiewe keuses word in sekere gedeeltes van die diensorde ingesluit, nl. die Versekering van Vergifnis (8), die Lofbetoning (19) en die Bevestiging van Geloof (21); Daar sal begryplikerwys in elk geval net EEN alternatiewe keuse gebruik word. Wanneer die Hernuwing van die Verbond (41-44) ingesluit word, moet die Bevestiging van Geloof geheel-en-al weggelaat word.

7. Geen voorsiening word in hierdie diensorde gemaak vir diegene wat wil uitgaan omdat hulle nie wil of instaat is om aan die Nagmaal deel te neem nie. Dit is doelbewus gedoen, aangesien die samestellers sterk daaromtrent voel dat die eenheid van die aanbiddende gemeente tot die einde van die diens gehandhaaf moet word, en dat selfs vir hulle wat nie aan die brood en wyn wil deelneem nie dit van besonder nut sal wees om dwarsdeur die diens teenwoordig te wees. Dit geld vir ons kinders, die katkisante en diegene wat onder sensuur geplaas is; almal sal meer aangaande Christus leer deur by die Sakrament aanwesig te wees.

8. Byna al die Nuwe-Testamentiese aanhalings word uit die onlangse 1979-Vertaling geneem. Dit skep ‘n probleem (wat ook deur ander vertalings nie uit die weg geruim is nie) by die woord “gedagtenis” in die Woorde van die Instelling (28), die Dankseggingsgebed (35), die aksie (36), die Deelname (37) en die Slotgebed (48). Daar is egter geen uitweg uit hierdie dilemma nie, want ons besit nie ‘n enkele term wat die volkome drakrag van die Hebreeuse (of Aramese) naamwoord wat Jesus gebruik het uitdruk nie. Dit is ‘n baie kragtige woord, wat beteken om op so ‘n manier te onthou dat die verlede reg in die hede gebring word. Wanneer hierdie woord in die Nagmaaldiens voorkom, voer dit ons in die gees na-die Bovertrek terug, waar Christus aan sy tafel voorsit, en al sy mense van alle plekke en tye gemeenskap met hom en gevolglik met mekaar het. Met die uitdeel van die brood word gepoog om in die woorde wat deur die Leraar gespreek word kortliks uitdrukking hieraan te gee – “... en hou so sielsgemeenskap met hom en met al sy volgelinge.”

9. Die Offerande (32) in hierdie diens volg die eeue-oue gebruik van die universele Kerk daarin dat dit nie net die offer van die lede se gawes (d.i. geld of goed) insluit nie, maar ook die offer van die brood en wyn. Dit is die bring na God van al drie elemente wat die offerande behels, en ons beveel sterk by ons gemeentes aan dat dit in ons aanbidding tot sy reg kom. (Waar dit gebruiklik is om die Tafel vooraf te dek, doen ons aan die hand dat ten minste een bord met brood en een beker – of een skinkbord met kelkies – een kant gehou word tot hierdie punt in die diens, sodat dit die toewyding van hierdie elemente simboliseer.)

10. Die Aksie (36): By elke viering van die Nagmaal moet die daad van die breking op so ‘n wyse uitgevoer word dat almal dit kan sien. Hiervoor moet daar genoeg ongebreekte brood beskikbaar wees sodat die Leraar dit by hierdie hoogtepunt in die diens kan breek. Netso moet daar (as daar een beskikbaar is) ‘n skinkbord gebruik word om die wyn in die beker te skink, soos die rubriek voorsien.

11. In baie van ons gemeentes is dit gebruiklik dat sekere diakens gebede sê gedurende die Deelname (37). Vanweë ons sterk oortuiging dat die gemeente ten volle in die erediens moet deelneem, wil ons nie hê dat dierdie gewoonte verwerp word nie. Aan die anderkant wil ons voorstel dat sulke diakens uitgenooi word om die Dankseggingsgebed (35) te sê in plaas van addisionele gebede. In daardie geval kan die Eerste diaken die Eerste gedeelte van die gebed (tot by die gemeente se antwoord: “Heilig, heilig, heilige Heer...”) sê, en die ander tweede gedeelte daarvan, vanaf die woorde: “Heilige God, deur wat ons hier doen...”

12. Oor die netelige saak oor wanneer die gemeente die brood en wyn moet nuttig word in die diensorde die swye bewaar! Plaaslike gemeentes sal ongetwyfeld voortgaan om hul gewone gebruik in dié verband te handhaaf. Daar moet egter kennis van geneem word dat die algemene Gereformeerde gewoonte waarvolgens die Leraar Eerste neem, daarna die diakens en uiteindelik die res van die gemeente (wat eet en drink wanneer hulle die elemente ontvang), op historiese sowel as liturgiese gronde aanbeveel kan word. Daar bestaan min twyfel dat dit die gebruik was in die dae van klassieke Congregationalisme, veral in die geval van die wyn, toe slegs ‘n gewone beker gebruik is.

13. Daar is ‘n meningsverskil (hoewel nie onder die samestellers van hierdie diensorde nie!) oor die mees geskikte plekke vir die Hernuwing van die Verbond en vir die Vrede. In hierdie diensorde kom dit voor by die onderskeie plekke (41 – 44 en 46), want dit is ons siening dat dit pasliker is nadat die gemeente van Christus aan sy Tafel saam was. Aan die anderkant kon dit elders geplaas word: bv. die Verbond in plaas van die Bevestiging van Geloof (21), en die Vrede voor of na die Offerande (32-33).

14. Met betrekking tot die Vrede, kan die woorde deur ‘n gepaste gebaar van die kant van die gemeente as geheel (bv. die handdruk) gevolg word, solank dit nie onnodige inbreuk op die verloop van die diens maak of die gees van die aanbidding steur nie.

15. In die slotplegtigheid van die “Liturgie van die Bovertrek” word klem gelê op ons gewaardeerde geloof in die gemeenskap van die heiliges. Dit is veral versoek deur die Uitvoerende Raad van die United Congregational Church of Southern Africa, toe die opstel van hierdie diensorde vir die eerste keer voorgestel is, om die verdere dimensie van ons aanbidding en lidmaatskap van Christus te beklemtoon.

16. Vir hulle wat nie onnodiglik onderbreek wil wees nie, is die plek van die Afkondigings in ‘n liturgiese diens ‘n voortdurende probleem. Ons het dit reg aan die einde geplaas, nie net met die hoop dat die gemeente dit sal onthou nie, maar liewer omdat dit ‘n aankondiging is van wat die gemeente van plan is om in Christus se naam in die week op hande te doen. In daardie sin is dit ‘n gepaste reaksie van die kant van hulle wat aan die Here se Tafel was en hulle gemeenskap met hom hernu het. Bo en benewens dit, as die afkondigings gedoen is, kry die verdagingswoorde wat onmiddelik volg – “Gaan in vrede om God lief te hê en te dien” – addisionele betekenis.

DIE LITURGIESE KOMITEE bied hierdie diensorde aan met die bede dat dit ons mense sal help om God met meer waardigheid te aanbid in die Sakrament van sy Seun se dood en opstanding, en hom meer getrou in hul alledaagse lewe te dien, aan hom eer toe te bring en die koms van sy koninkryk te verhaas.

DIE NAGMAALDIENS

Prosessiegesang

Die Begroeting

DIE LITURGIE VAN DIE WOORD

LOFUITING

Skrifgedeeltes

Lofgebed

Berou en Vergifnis

Versekering van Vergifnis

Gebed vir die Genade van God

Gesang van Lof

DIE WOORD VAN GOD

Gebed vir Insig

Die Skriflesing:

(Ou Testament)

(Psalm)

(Nuwe Testament)

(Lofsang of Gesang)

Die Evangelie

Gesang

Die Preek

Die Lofbetoning

ANTWOORD OP GODS WOORD

(Bevestiging van Geloof)

Gesang of Koorsang

Voorbidding

(Die Bevestiging van Kerkraadlede)

(Die Aanneming van Lidmate)

DIE LITURGIE VAN DIE BOVERTREK

Die Woorde van die Instelling

Die Genadevolle Uitnodiging

Die Gebed van Toenadering

Die Nagmaalgesang

Die Offerande

Die Afsondering van die Elemente

Die Dankseggingsgebed

Die Aksie

Die Deelname

Die Toejuiging

Hertoewyding

(Hernuwing van die Verbond)

Die Vrede

Slotgebed

Gesang

Die Afkondigings

Die Verdaging en die Seën

Die gedeeltes deur die Leraar gespreek in Kleinletters geset.

Die gedeeltes deur die Gemeente gespreek is vetgedruk.

Die gedeeltes deur Die LERAAR EN GEMEENTE saamgesproke is in VET HOOFLETTERS geset.

DIE NAGMAAL

PROSESSIEGESANG

1. Die prosessie word gevorm deur die Koor, gevolg deur die diakens en die Leraar.

1.1 (Die prosessie kan gelei word deur ‘n Diaken wat die Bybel dra, wat hy dan op die kateder plaas. Waar daar nie ‘n kateder is nie, kan dit op die preekstoel geplaas word.)

1.2 Die gemeente staan onderwyl die prosessiegesang deur die koor (of deur die hele gemeente gesing word.)

2. Die gemeente bly staan

3. DIE BEGROETING

Behalwe op Paasdag word hierdie begroeting gebruik:

Genade en vrede vir julle

van God onse Vader en die Here Jesus Christus.

Genade en vrede ook vir u.

DIE LITURGIE VAN DIE WOORD

LOFUITING

4. SKRIFGEDEELTES

4.1 Die paslike Skriflesing vir die verskillende tye van die Christelike Jaargang of vir spesiale geleenthede in die gemeente word in die AANHANGSEL (bladsye 46-68) gevind.

4.2 Wanneer dit nie gebruik word nie, word die volgende gesê:

Ons hulp kom van die Here,

wat hemel en aarde gemaak het. (Ps. 124:8)

Loof die Here, want hy is goed

Aan sy liefde is daar geen einde nie! (Ps. 106:1)

Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring?

Wie kan sy lof ten volle verkondig? (Ps. 106:2)

Uit hom en deur hom en tot hom is alle dinge.

Aan hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! (Rom. 11:36)

Christus het opgestaan uit die dode.

Die Here het opgestaan.

HALLELUJA!

5. Die gemeente sit.

6. LOFGEBED

6.1 Die paslike lofgebede vir die tye van die Christelike Jaargang of vir spesiale geleenthede in die gemeente word in die AANHANGSEL (bladsye 51-74) gevind.

6.2 Wanneer dit nie gebruik word nie, maak die Leraar gebruik van die volgende (of ‘n ander) lofgebed:

Lof en eer aan U, almagtige God!

U het die heelal geskape en hou dit in stand.

Lof en eer aan U, God ons Vader!

U het ons lief met ‘n liefde wat geen perke het nie;

U het ons u Seun, Jesus Christus, gegee

om ons te versoen met U en met mekaar.

Lof en eer aan U

uit elke deel van u heerskappy,

uit die Kerk in die hemel en op aarde,

uit ons lofliedere en ons lewens!

Aan U die eer,

aan U die lof,

deur Jesus Christus, onse Heer. AMEN.

7. BEROU EN VERGIFNIS

Laat ons ons sondes voor God bely:

ons dade wat sy gebooie verbreek en sy kinders tenagekom het;

(stille gebed)

ons woorde waarmee ons Christus ons Heer verloën het

en diegene vir wie hy gekom het om te red,

gekwes of beswaar het;

(stille gebed)

Ons gedagtes wat hom onwaardig was;

(stille gebed)

Al die kwade wat ons gedoen het,

en die goeie wat ons ongedaan gelaat het.

(stille gebed)

Here, wees ons genadig.

Christus, wees ons genadig.

Here, wees ons genadig.

TER WILLE VAN U SEUN, CHRISTUS, ONSE HERE,

VERGEEF ONS ONS VERLEDE,

EN GEE DAT ONS U MET

‘N NUWE LEWE MAG DIEN,

TOT VERHEERLIKING VAN U NAAM.

8. VERSEKERING VAN VERGIFNIS

Ontvang die versekering van God se vergifnis.

8.1 EEN van die volgende Skrifgedeeltes word gebruik:

(A) God sê:

As my volk, oor wie my naam uitgeroep is,

hulle verootmoedig en bid

en my aangesig soek

en hulle bekeer van hul verkeerde weë,

dan sal ek uit die hemel hoor

en hulle sondes vergewe en hulle land genees. (2 Kron 7:14)

OF

(B) God sê:

Ek, ek is dit

wat jou oortredinge uitdelg om my ontwil

en aan jou sondes dink ek nie.

(Jes. 43:25)

OF

(C) God het die wêreld so liefgehad

dat hy sy enigste Seun gegee het,

sodat dié wat in hom glo, nie verlore sal gaan nie,

maar die ewige lewe sal hê.

(Joh. 3:16)

OF

(D) Aangesien ons nou deur geloof geregverdig is,

het ons vrede by God

deur onse Here Jesus Christus.

(Rom. 5:1)

OF

(E) As ons ons sondes bely,

hy is getrou en regverdig.

Hy vergewe ons ons sondes

en reinig ons van alle ongeregtigheid.

(1 Joh. 1:9)

OF

(F) Dit is ‘n betroubare woord

en werd om sonder voorbehoud aanvaar te word:

Christus Jesus het in die wêreld gekom

om sondaars te verlos.

(Tim. 1:15)

9. GEBED VIR DIE GENADE VAN GOD

9.1 Die paslike gebede vir die tye van die Christelike Jaargang en spesiale geleenthede in die gemeente word in die AANHANGSEL (bladsye 51-74) gevind.

9.2 Wanneer dit nie gebruik word nie, maak die Leraar gebruik van die volgende (of ’n ander) gebed vir God se genade:

Almagtige God,

bevestig en bekragtig ons in alles wat goed is,

en bewaar ons vir die ewige lewe;

deur Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met u en die Heilige Gees, een God,

sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

10. GESANG VAN LOF

DIE WOORD VAN GOD

11. Waar moontlik behoort gemeentelede gevra te word om die Skrifgedeeltes wat vir die diens gekies is, voor te lees.

12. GEBED VIR INSIG

U HET ONS GELEER, HERE GOD,

DAT ONS NIE VAN BROOD ALLEEN KAN LEWE NIE,

MAAR VAN ELKE WOORD WAT UIT U MOND KOM.

MAG CHRISTUS, DIE BROOD VAN DIE LEWE,

WAT MENS GEWORD HET,

DIE SKRIFTE VIR ONS ONTVOU,

SODAT ONS U WIL MAG LEER KEN,

EN MAG VOORTGAAN AS SY VOLGELINGE.

DIE SKRIFLESING

13. ‘n Gedeelte uit die Ou Testament.

13.1 Die Leser lei die gedeelte in:

Die Ou-Testamentiese Skriflesing is geneem uit hoofstuk..., (by vers...).

13.2 Na die Skriflesing

Dit is die woord van die Here.

Dank sy God!

13.3 Die Skriflesing kan deur ‘n Psalm en/of stille oordenking gevolg word

14. ‘n Gedeelte uit die Nuwe Testament uitgesonderd die Evangelies.

14.1 Die Leser lei die gedeelte in:

Die Nuwe Testamentiese Skriflesing is geneem uit..., hoofstuk..., (by vers...).

14.2 Na die Skriflesing:

Dit is die woord van die Here.

Dank sy God!

14.3 Die Skriflesing kan deur ‘n Lofsang of ‘n Gesang en/of stille oordenking gevolg word.

15. DIE EVANGELIE

15.1 Die Leser lei die Evangelie-gedeelte in:

Luister na die Blye Boodskap, uit die Evangelie volgens... ..., hoofstuk..., (by vers...).

15.2 Na die lees van die Evangelie:

Dit is die Blye Boodskap van Christus.

Lof aan Christus, onse Heer!

16. Die lees kan deur stille oordenking gevolg word.

17. GESANG

(waarin die Heilige Gees aangeroep word of dank vir die Skrif gegee word)

18. DIE PREEK

19. DIE LOFBETONING

Aan die einde van die Preek gee die Leraar God die eer, deur gebruik te maak van EEN van die volgende Skrifgedeeltes:

(A) Aan hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is

om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,

aan hom kom die eer toe, in die Kerk,

deur verbondenheid met Christus Jesus,

deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen. (Ef. 3:20-21)

OF

(B) Uit die liefde vir ons het hy ons deur sy bloed

van ons sondes verlos

en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader.

Aan hom behoort die heerlikheid en die krag

tot in alle ewigheid. Amen.

(Op. 1:5-6)

OF

(C) Die lot en die heerlikheid,

die wysheid, die dank en die eer,

die mag en die sterkte behoort aan ons God

tot in alle ewigheid. Amen.

(Op 7:12)

OF

(D) Aan hom wat magtig is

om julle van struikeling te bewaar,

en julle onbevlek en met vreugde

sy heerlikheid te laat aanskou

aan die enigste God, ons Verlosser,

deur Jesus Christus ons Here,

aan hom behoort die heerlikheid en die majesteit,

die krag en die mag,

van alle ewigheid af, ook nou

en tot in alle ewigheid. Amen.

(Jud 24-25)

20. Die Lofbetoning kan deur stille oordenking en/of gevolg word.

ANTWOORD OP GODS WOORD

(21)BEVESTIGING VAN GELOOF

21. Tensy die Verbond later in die diens hernu sal word, kan die gemeente opstaan en hul geloof bevestig.

(21.1)EEN van die volgende kan gebruik word:

(A) DIE APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS

EK GLO IN GOD DIE VADER,

DIE ALMAGTIGE,

SKEPPER VAN DIE HEMEL EN DIE AARDE

EK GLO IN JESUS CHRISTUS,

SY ENIGGEBORE SEUN, ONSE HERE,

HY IS ONTVANG DEUR DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES

EN IS UIT DIE MAAGD MARIA GEBORE.

HY HET GELY ONDER PONTIUS PILATUS,

EN IS GEKRUISIG, GESTORWE EN BEGRAWE.

HY HET NEERGEDAAL NA DIE DODERYK.

OP DIE DERDE DAG HET HY WEER OPGESTAAN.

HY HET OPGEVAAR NA DIE HEMEL

EN SIT AAN DIE

REGTERHAND VAN DIE VADER.

HY SAL WEER KOM

OM DIE LEWENDE EN DIE DOOIE TE OORDEEL.

EK GLO IN DIE HEILIGE GEES.

EK GLO IN DIE HEILIGE, KATOLIEKE KERK.

DIE GEMEENSKAP VAN DIE HEILIGES,

DIE VERGEWING VAN SONDES,

DIE WEDEROPSTANDING VAN DIE LIGGAAM.

EN DIE EWIGE LEWE.

OF

(B) DIE GELOOFSBELYDENIS VAN NICẾA

ONS GLO IN EEN GOD,

DIE ALMAGTIGE VADER,

DIE SKEPPER VAN HEMEL EN AARDE,

EN VAN ALLE SIENLIKE EN ONSIENLIKE DINGE.

ONS GLO IN EEN HERE, JESUS CHRISTUS,

DIE ENIGGEBORE SEUN VAN GOD,

GEBORE UIT DIE VADER VOOR ALLE EEUE,

GOD UIT GOD, LIG UIT LIG,

WAARAGTIGE GOD UIT WAARAGTIGE GOD,

GEBORE, NIE GEMAAK NIE,

VAN DIESELFDE WESE MET DIE VADER,

DEUR WIE ALLE DINGE GEMAAK IS.

TER WILLE VAN ONS, MENSE, EN OM ONS TE VERLOS

HET HY UIT DIE HEMEL NEERGEDAAL.

DEUR DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES

IS HY UIT DIE MAAGD MARIA GEBORE,

EN HET MENS GEWORD.

OM ONS ONTWIL IS HY ONDER PONTIUS PILATUS GEKRUISIG;

HY HET GELY, HY HET GESTERWE, HY IS BEGRAWE.

DIE DERDE DAG HET HY WEER OPGESTAAN,

IN VERVULLING VAN DIE SKRIFTE.

HY HET OPGEVAAR NA DIE HEMEL,

EN SIT AAN DIE REGTERHAND VAN DIE VADER.

HY SAL WEER KOM IN HEERLIKHEID

OM DIE LEWENDE EN DIE DODE TE OORDEEL,

EN SY KONINKRYK SAL GEEN EINDE HÊ NIE.

ONS GLO IN DIE HEILIGE GEES,

DIE HERE, DIE GEWER VAN DIE LEWE,

WAT VAN DIE VADER EN DIE SEUN UITGAAN,

SAAM MET DIE VADER EN DIE SEUN

WORD HY AANBID EN VERHEERLIK.

HY HET DEUR DIE PROFETE GESPREEK.

ONS GLO IN EEN, HEILIGE, KATOLIEKE EN APOSTOLIESE KERK.

ONS BELY EEN DOOP

TOT VERGIFNIS VAN SONDES.

ONS VERWAG DIE OPSTANDING VAN DIE DODE

EN DIE EWIGE LEWE.

OF

(C) ONS AANBID GOD, DIE VADER,

WAT DIE HEELAL GESKAPE HET

EN DIT IN LIEFDE IN STAND HOU.

ONS AANBID JESUS CHRISTUS,

IN WIE GODS WAARHEID EN KRAG MENS GEWORD HET

EN ‘N LEWE SOOS DIẾ VAN ONS GELEI HET.

HY HET AAN DIE KRUIS GESTERWE;

HY HET UIT DIE DODE OPGESTAAN;

HY REGEER MET DIE VADER.

ONS VERWELKOM DIE HEILIGE GEES,

IN WIE GODS KRAG EN WAARHEID NOG TOT ONS KOM.

ONS ERKEN EEN UNIVERSELE KERK

IN AANSLUITING BY DIE APOSTELS,

DEUR WIE GOD VAN VOORNEMENS IS OM AAN DIE WÊRELD

SY WAARHEID EN LIEFDE TE TOON.

ONS SIEN UIT NA DIE TOEKOMS

WANNEER GODS SKEPPENDE WERK VOLTOOI SAL WEES,

SY VOLK IN SY EWIGE LEWE SAL DEEL,

EN DIE HEELAL MET VOLMAAKTE LOF SAL WEERKLINK.

OF

(D) ONS BEVESTIG ONS GELOOF

DAT GOD DIE WÊRELD IN WYSHEID EN GOEDHEID REGEER,

EN DAT HY ONS TOT SY DIENSKNEGTE GEROEP HET.

DEUR JESUS CHRISTUS HET HY ONS SY WAARHEID GETOON

EN ONS VAN DIE BOSE VRYGEMAAK.

ONS GLO DAT GODS LIEFDE NOOIT SAL EINDIG NIE,

DAT HY SAL VOORTGAAN OM ONS TE VERGEWE,

EN ONS UITEINDELIK TOT IN VOLLEDIGE KENNIS EN VOLMAAKTE

GEMEENSKAP MET HOMSELF SAL BRING.

ONS HET GOD LIEF OMDAT HY ONS EERSTE LIEFGEHAD HET,

EN ONS SY SEUN GEGEE HET

SODAT ELKEEN WAT IN HOM GLO –

NIE VERLORE SAL GAAN NIE,

MAAR DIE EWIGE LEWE SAL HÊ.

ONS SAL OP GOD VIR ALTYD VERTROU,

EN ONS LIEFDE AAN HOM BEWYS

DEUR MEKAAR LIEF TE

HÊ EN OOK ONS NAASTE;

MET ONS STEMME EN ONS LEWE

SAL ONS HOM VIR EWIG LOOF.

22. GESANG OF KOORSANG

23. VOORBIDDING

23.1 Besondere onderwerpe vir voorbidding kan kortliks hier vermeld word:

23.2 Die Leraar (of iemand anders wat daartoe aangestel is) kan voorgaan in voorbereide of vry gebed, of kan die volgende gebruik:

24. GEBEDE

24.1 Laat ons vir die Kerk oral in die wêreld bid, en veral vir die Kerk in hierdie land.

Here God,

gee aan die Kerk ‘n duideliker openbaring en dieper wysheid,

sodat deur die hernuwing van haar eenheid

sy u heerlikheid kan weerspieël;

en laat die ewige boodskap van u Seun

as die blye boodskap van die nuwe skepping ontvang word;

deur hom wat alle dinge nuut maak,

Jesus Christus, onse Heer. Amen.

24.2 Laat ons vir die volkere van die wêreld bid, en veral vir hierdie volk.

Here God,

U het die ganse mensdom geskape,

alle mense na u eie beeld;

U het Jesus gestuur om vrede aan alle nasies te verkondig.

Verenig alle mense in een broederskap in hom

en vestig so u heerskappy van vrede op aarde,

deur hom wat die Vredevors is,

Jesus Christus, onse Heer. Amen.

24.3 Laat ons vir manne en vroue in hul werk bid.

Here God,

u Seun Jesus het as skrynwerker gewerk.

Bevestig alle werkers

in die diens van hul medemens,

sodat hulle op die vaste grondslag

van u doelstelling sal bou;

deur hom vir wie dit vreugde was om u wil te doen,

Jesus Christus, onse Heer. Amen

24.4 Laat ons vir almal wat in moeilikheid verkeer, bid,

Here God,

u Seun het gekom om die laste van mense te dra.

In u genade verleen hulp aan die hulpelose,

almal wat deur ons gevoellose wêreld geknak is,

wat geval het,

en nie sonder u hulp kan opstaan nie;

deur hom wat medelye met die menigtes gehad het,

Jesus Christus, onse Heer. Amen.

24.5 Nog voorbidding kan volg, bv.

Vir die krankes,

Die werklose,

Die gevangenes,

Die bedroeftes,

Enigeen met ‘n besondere behoefte,

Hulle wat op die drumpel staan om te sterf.

24.6 Aan die einde van die gebede:

Here God,

in Jesus het U na aan ons gekom,

en u liefde en simpatie aan ons getoon.

Terwyl ons in die wêreld leef en werk;

gee aan ons ‘n liefde wat u Liefde vir mense weerspieël,

en medelye vir die behoefte van alles wat U geskape het;

deur Jesus Christus, onse Heer. Amen.

25. DIE BEVESTIGING VAN KERKRAADLEDE

26. DIE AANNEMING VAN LIDMATE

As lidmate aangeneem word met belydenis van geloof of deur oorplasing, of as iemand herstel word tot kerklike voorregte kan die gepaste diensorde by hierdie geleentheid gevolg word.

DIE LITURGIE VAN DIE BOVERTREK

27. Die Leraar beweeg na die Nagmaalstafel.

28. DIE WOORDE VAN DIE INSTELLING

Geliefdes, luister na die uiteensetting van hoe Christus, volgens Paulus, die Nagmaal ingestel het:

Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat hy God daarvoor gedank het, het hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so ook het hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat hy kom.

29. DIE GENADEVOLLE UITNODIGING

Luister ook na die genadevolle uitnodiging waarmee ons Here Jesus ons uitnooi na hom toe, sodat ons sy tafel kan nader in die versekering dat hy ons hier verwelkom. Hy sê:

Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van my, want ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.

Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.

Ek is die brood wat lewe gee. Wie na my toe kom, sal nooit weer honger kry nie: en wie in my glo, sal nooit weer dors kry nie. Ek sal hom wat na my toe kom, nooit verwerp nie. Kyk, ek staan by die deur en ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met my.

Hierdie tafel van die Here is oop vir almal wat hom liefhet en verlang om hulself aan hom toe te wy. In sy naam nooi ons almal wat met ons aanbid om in die heilige maaltyd te deel.

30. DIE GEBED VAN TOENADERING

Laat ons antwoord op Christus se uitnodiging. Laat ons bid.

Genadige God,

Ons kom nie na hierdie tafel omdat ons voel dat ons goed is nie.

Ons kom as sondige mense, wat vergifnis nodig het.

Ons kom omdat ons smag na die lewe, en U alleen kan ons voed.

Vader, vergeef ons en voed ons.

Ons kom omdat Christus ons uitgenooi het.

Ons kom in dankbaarheid en bewondering, in verering en

aanbidding, om onsself ten volle aan U te offer.

Vader, ons prys U, neem ons aan.

31. DIE NAGMAALGESANG

32. DIE OFFERANDE

Geliefdes in Christus, die Evangelie deel ons mee dat op die Eerste dag van die week, die dag toe ons Heer uit die dode opgestaan het, het hy aan sy dissipels verskyn, en hom aan hulle bekend gemaak met die breek van die brood.

Laat ons dan hierdie tafel met die offergawes van ons lewe en arbeid voorberei.

U gawes sal nou ontvang word.

32.1 Die Diakens ontvang die gemeente se gawes, en bring dit na die tafel met die brood en wyn.

33. Dit word dan in gebed toegewy:

33.1 Die Leraar neem die brood aan:

Ons loof U, Heer, God van die ganse skepping:

Deur u goedheid kan ons hierdie brood offer,

Wat die aarde opgelewer het en mensehande gebak het.

Here, voed ons met die Brood van die lewe.

33.2 Die Leraar neem die wyn aan:

Ons loof U, Heer,

God van die ganse skepping;

Deur u goedheid kan ons hierdie wyn offer,

Die vrug van die wynstok en die werk van mensehande.

Here, les ons dors.

33.3 Die Leraar neem die geldgawes aan:

Ons loof U, Heer,

God van die ganse skepping;

Deur u goedheid kan ons hierdie geld offer,

Die simbool van die talente wat U aan ons gegee het, en van ons arbeid.

Neem ons en ons besittings om u werk in die wêreld te doen.

34. DIE AFSONDERING VAN DIE ELEMENTE

Dat ons met blydskap mag uitvoer wat Jesus ons beveel het, volg ons sy voorbeeld in dit wat ons sê en doen.

Soos Jesus in die nag waarin hy oorgelewer is, brood en wyn geneem het, (die Leraar lê sy hande op die bord en beker) so sonder ons hierdie af vir heilige gebruik.

En soos hy die seën gevra en daarna gedank het, laat ons bid.

35. DIE DANKSEGGINGSGEBED

Verhef u harte.

Ons verhef hulle tot die Here.

Laat ons die Here onse God dank.

Dit is paslik om hom te dank en loof.

Almagtige God, Bron van alle lewe en liefde,

met blydskap gee ons eer en dank

dat ons in u wêreld leef,

dat U dit voortdurend skep en instandhou deur u krag,

en dat U ons in staat stel om U te kan ken en liefhê, vertrou en dien.

Ons dank U

dat U die wêreld so lief het dat U,

U enigste Seun gegee het,

sodat elkeen wat in hom glo

nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Ons dank U

dat Jesus onder ons gebore is;

Dat hy om menslike lot hier op aarde beleef het,

Dat hy vir ons gely en gesterf het;

Dat hy weer opgestaan het,

En na u heerlikheid teruggekeer het.

Ons dank U

dat hy altyd deur die Heilige Gees met ons teenwoordig is,

en dat ons in die vaste hoop van sy oorwinning ons kan verbly,

in die geloof dat u koninkryk sal kom,

en dat in lewe, in dood en in die hiernamaals U met ons is.

Ons dank U

dat ons hierdie nagmaal vier

in gemeenskap met al u kinders,

uit die verlede, die hede, en die toekoms.

Met hulle, en saam met die hele hemelse leerskare,

verkondig ons u majesteit en bring ons U lof:

HEILIG, HEILIG, HEILIGE HEER,

GOD VAN KRAG EN MAG,

DIE HEMELSE EN AARDE IS VOL VAN U HEERLIKHEID.

HOSANNA IN DIE HOOGSTE!

Geseënd is hy wat kom in die naam van die Here!

HOSANNA IN HOOGSTE!

Heilige God,

deur wat ons hier doen ter gedagtenis van Christus vier ons sy

volmaakte offer aan die Kruis, en sy glorieryke opstanding en

hemelvaart;

ons verklaar dat hy Heer van die heelal is;

en ons berei ons voor vir sy wederkoms as Koning.

Mag die Heilige Gees ons en hierdie, u gawes, seën,

en, wanneer ons hierdie brood eet en die wyn drink,

mag ons in die ewige lewe van Christus deel,

met hom en al sy volgelinge verenig word,

en toegerus wees om u wil in die wêreld te doen.

Neem aan ons offer van danksegging,

en aan U, die enige, heilige en ewige God,

Vader, Seun, en Heilige Gees,

kom toe heerlikheid tot in alle ewigheid. AMEN.

En nou, soos Christus ons Verlosser ons geleer het, sê ons vrymoediglik:

ONSE VADER WAT IN DIE HEMEL IS,

LAAT U NAAM GEHEILIG WORD,

LAAT U KONINKRYK KOM,

LAAT U WIL GESKIED,

SOOS IN DIE HEMEL NET SO OOK OP DIE AARDE,

GEE ONS VANDAG ONS DAAGLIKSE BROOD;

EN VERGEEF ONS ONS SKULDE SOOS ONS OOK ONS

SKULDENAARS VERGEWE.

EN LEI ONS NIE IN VERSOEKING NIE,

MAAR VERLOS ONS VAN DIE BOSE,

WANT AAN U BEHOORT DIE KONINKRYK,

EN DIE KRAG EN DIE HEERLIKHEID,

TOT IN EWIGHEID.

AMEN.

36. DIE AKSIE

In gehoorsaamheid aan die bevel van onse Here Jesus Christus, volg ons nou sy voorbeeld in dit wat ons sê en doen.

In die nag waarin hy oorgelewer is, het hy brood geneem. (Die Leraar neem die brood). Nadat hy God daarvoor gedank het, breek hy dit (die Leraar breek die brood) en sê: “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

Net so ook neem hy die beker, (die leraar skink die wyn in die beker en lig dit op) en sê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

37. DIE DEELNAME

37.1 Met die uitdeel van die brood:

Hierdie brood is die liggaam van Christus; dit is vir julle.

Neem en eet tot gedagtenis.

Voed in die geloof op hom,

en hou so sielsgemeenskap met hom en met al sy volgelinge.

37.2 Stille gebed volg op die eet van die brood.

37.3 Met die uitdeel van die wyn:

Hierdie beker is die nuwe verbond

deur Christus se dood beseël,

sodat die sondes van almal vergewe mag word.

Drink dit tot sy gedagtenis;

gee uself aan hom oor,

wat met die prys van sy lewe u gekoop het.

37.4 Stille gebed volg op die drink van die wyn.

38. DIE TOEJUIGING

Laat on die Here loof.

(LUID)

CHRISTUS HET GESTERWE!

CHRISTUS HET OPGESTAAN!

CHRISTUS KOM WEER!

39. HERTOEWYDING

Die Leraar (of iemand anders wat daartoe aangestel is) lees hierdie gedeelte van Johannes 13:

Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat hy van God gekom het en na God teruggaan. Toe het hy van die tafel af opgestaan, sy bo-kleed uitgetrek en ‘n handdoek gevat en om hom vasgemaak. Daarna het hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat hy omgehad het...

Toe hy hulle voete klaar gewas en sy bo-kleed aangetrek het en weer aangesit het, sê hy vir hulle: “Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het? Julle noem my ‘Meester’ en ‘Here’, en julle is reg, want ek is dit. As ek, wat julle Here en julle Leermeester is dan julle voete gewas het; behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel en soos ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.”

Dit verseker ek julle: ‘n slaaf is nie belangriker as sy baas nie, en ‘n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”

40. Stille gebed van persoonlike hertoewyding wat deur ‘n versie van ‘n paslike toewydingsgesang gevolg kan word.

41. HERNUWING VAN DIE VERBOND

41.1 Hierdie gedeelte kan voorbehou word vir die toelating van lidmate tot die gemeenskap van die plaaslike gemeente of vir spesiale geleenthede soos Sy jaarfees.

41.2 Die gemeente staan.

42. En nou, as lede in die huisgesin van God,

In die eenheid van geloof, in die gemeenskap van heiliges,

In liefde en welwillendheid teenoor almal,

Laat ons in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus

Ons opnuut aan hom en aan mekaar

in al die voorregte en pligte van ons hoë roeping in Christus Jesus.

43. Die plaaslike gemeente se verbond word hier opgesê of die volgende:

ONS GLO IN GOD, ONSE HEMELSE VADER;

ONS BELY JESUS CHRISTUS AS HEER EN SALIGMAKER;

ONS IS AFHANKLIK VAN DIE LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES;

IN GOD SE TEENWOORDIGHEID STREWE ONS OM TE

LEWE OOREENKOMSTIG ALLES WAT HY AAN ONS

GEOPENBAAR HET EN NOG SAL OPENBAAR.

ONS VERBIND ONSSELF OM SAAM TE AANBID, TE WERK

EN TE GETUIG BINNE DIE GEMEENSKAP VAN HIERDIE

GEMEENTE, OM DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS OP TE BOU, EN DIE KONINKRYK VAN GOD OP AARDE BEKEND TE MAAK.

44. Dan volg dié gebed:

Almagtige God,

Leier en Bewaarder van U kinders,

gee dat die verbond wat ons hier vandag op aarde sluit

in die hemel bevestig mag word;

deur Jesus Christus, onse Here. Amen.

45. Die gemeente sit.

46. DIE VREDE

Mag die vrede van die Here Jesus Christus met u almal wees.

Mag sy vrede ook met u wees.

47. Hierdie woorde kan met ‘n gepaste handeling (bv. ‘n handdruk) gepaard gaan.

48. SLOTGEBED

Laat ons God vir hierdie maaltyd dank. Kom ons bid.

Here God,

ons loof en aanbid en vereer U

vir alles wat U aan ons by hierdie tafel gegee het.

Ons loof U dat ons die dood van u Seun kon herdenk;

mag ons die oue afsterf.

Ons vier sy opstanding uit die dode;

mag ons tot nuwe lewe in hom gebring word.

Soos hy vir ewig in u heerlikheid leef, mag ons ook vir U leef,

en U heerlikheid in elke deel van ons lewe bring.

Ons dank U

dat ons met al u kinders in die hemel en op aarde aan

tafel kon aansit, en gemeenskap met hulle hou.

Ons prys U vir u kinders oor die hele wêreld heen,

met wie ons by hierdie tafel verenig is.

Ons loof U vir ons eenheid

met almal wat vóór ons geleef het,

U getrou gedien het en nou in u heerlikheid deel.

Met innige dankbaarheid onthou ons ons eie dierbares en die lidmate

van hierdie gemeente wat op Jesus Christus vertrouend gesterf het, en

ons is verheug dat in die gemeenskap van u Seun ons een met hulle in

die geloof is.

Behou ons in hierdie heilige gemeenskap en as ons lewe hier ten einde loop

bring ons na die tuiste wat U voorberei het

vir almal wat U liefhet,

waar ons U in volmaaktheid vir ewig mag loof en dien.

Dit vra ons in die naam van Jesus Christus, onse Here,

en aan hom, met U, Vader, en die Heilige Gees,

een geseënde God, kom oneindige lof en heerlikheid toe. AMEN.

49. GESANG

Die volgende gesang of ‘n ander wat dank betuig vir die gemeenskap van die heiliges of wat Christus se opstanding gedenk, of Te Deum Laudamus.

(Wysie: Almsgiving of Meyer)

Vir dierbares eens op aard’ vereen,

Wat met ons langer nie verkeer,

Maar ewig rus verwerwe het,

Dank ons U, Heer.

Volmaakte nuutverworwe stand -

Hierop was hul stryd gerig -

In klare lig sien hul, o Heer,

U aangesig.

Anders as wat ons hul onthou,

In sorg gebuk, en moeg en tam,

Nou opgehef! En op hul hoof

Dra hul u naam.

Van aards’ beperkinge onthef,

In nuwe kennis van u Gees,

Met groter insig, groter vreug’,

Dien hul U steeds.

Hoe voller is die lewe daar!

Hoe ruimer, wyer die bereik!

Geen mensehart of gees kan peil

Die heerlikheid.

Of hoe U hulle wyer krag

Mag aanwend, en U mag bestier

Die wyse van hul inslag op

Ons lewe hier.

Met aanskyn stralend van geluk

Dien en aanbid hul immermeer;

En woon en werk en wandel hul

Een met hul Heer.

50. DIE AFKONDIGINGS

51. DIE VERDAGING EN DIE SEËN

Geliefdes is Christus,

Gaan in vrede om God lief te hê en te dien.

Die seën van ons almagtige God, die Vader die Seun en die

Heilige Gees, sy met julle almal.

AMEN.

52. Die Amen kan gesing word.

AANHANGSEL

SKRIFGEDEELTES EN GEBED

vir

DIE CHRISTELIKE JAARGANG

en

ANDER SPESIALE GELEENTHEDE

Advent

Oukersaand

Kersdag

Die Sondae voor Vastyd

Vastyd

Lydenssondag

Palmsondag

Paasdag

Paastyd

Hemelvaartstyd

Pinksterdag

Drieëenheid Sondag

Herdenking van Allerheiliges

Sondag voor Advent

Kerkverjaarsdag

Oestyd Danksegging

Hervorming Sondag

Die Openingsdiens van Assembly of Streeksraad

Die Afsluitingsdiens van Assembly of Streeksraad

ADVENT

(die vier Sondae voor Kersdag)

4. Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here.

Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier,

speel op die lier en sing.

Want hy kom om oor die aarde te heers;

hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid,

oor die volke met billikheid. (Ps. 98:1,6,9)

Julle moet wees soos mense wat vir hulle Heer wag,

sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as Hy aanklop.

(Luk. 12:36)

6. Ons loof en prys U, magtige God, Here van hierdie en van elke eeu,

Vader van u volkere in elke geslag,

U het tot ons vaders deur die profete gespreek.

U het tot die hele wêreld deur u Seun gespreek.

U vul ons met die hoop van sy oorwinning.

Aan U kom toe die eer dat alle geslagte ‘n voorbereiding vir sy koms is.

Ons juig dat al u beloftes waaragtig is en standhou. Terwyl ons wagtend bly op die nuwe hemel en die nuwe aarde volgens u belofte, wil ons U aanbid en eer, deur Jesus Christus, onse Here. AMEN.

9. Help ons, Here God

Mag ons soos mense wees wat op hul Heer wag tot hy terugkom, sodat ons dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.

Gee aan ons opmerksaamheid, sodat ons hom altyd sal erken op welke wyse hy ookal mag kom, en ons lewe aan hom onderwerp, Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir

ewig. AMEN

OUKERSAAND

(24 Desember)

4. God sê:

Vir julle wat my naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees. (Mal. 4:2)

Heilig julle:

Want môre sal die Here wonders onder julle doen. (Jos. 3:5)

6. Genadige en heerlike God,

met vreugde nader ons die krip van u Seun.

Soos die engele hierdie heilige aand oor Betlehem gesing het, so

ook offer ons U ons lot.

Soos die herders hulle verwonder het oor die goeie nuus so nader

ons met bewondering om U te verheerlik deur Jesus Christus, u

Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het. Amen.

9. Almagtige God,

berei ons voor om u Seun te verwelkom.

Mag hy in ons harte weer gebore word, en ons liefde vir hom daagliks groei, om sy naams ontwil, Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

KERSDAG

(25 Desember)

4. My siel besing die grootheid van die Here.

My Gees juig oor God, my Verlosser. (Luk. 1:46-47)

Danksy die genadige ontferming van ons God,

Soos die môreson sal hy opgaan,

om lig te bring aan die wat in duisternis en in die skaduwee van die

dood lewe,

OM ONS VOETSTAPPE TE RIG OP DIE WEG VAN VREDE. (Luk. 1:78-79)

Eer aan God in die hoogste hemel,

en vrede op aarde vir mense in wie hy ‘n welbehae het. (Luk. 2:14)

6.Alle eerbied, alle lof en prys kom U toe,

magtige Here God!

In die begin het U beveel dat die lig uit die duisternis moes skyn.

Toe die volheid van tyd gekom het is u Seun gegee as die Lig van die wêreld, om oor ons te skyn, en ons voetstappe op die weg van vrede te rig.

Alle lof en prys kom U toe vir u onuitspreeklike gawe, Jesus Christus, onse Here. Amen.

9. Here God, U het ons na u beeld geskape,

en U het ons in Jesus Christus herstel.

Soos hy in ons midde gebore was, om in ons swakhede te deel, mag ons in hom gebore word, om so in sy heerlikheid te deel.

Dit vra ons in sy naam, Jesus Christus, onse Here.

En aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

KERSTYD

(die Eerste Sondag na Kersdag tot

Die tiende Sondag voor Paasdag)

4.Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien.

Die wat woon in die land van die doodskaduwee,

oor hulle het ‘n lig geskyn. (Jes. 9:11)

Kom en laat ons wandel in die lig van die Here. (Jes. 2:5)

6.Here God, Bron van alle lig en lewe,

Skepper en Ondersteuner van alle dinge,

ons loof, ons aanbid U.

U is groot – gedug bó ons verstand,

tog het U na die wêreld in Jesus gekom, die Baba van Betlehem,

die Skrynwerker van Nasaret, die Man van Galilea.

In u lig juig ons – dit wat deur sy koms in ons harte skyn.

In u grote verlossing jubel ons.

Ons aanbid U, onse Vader en Onse God, deur u Seun, Jesus

Christus, onse Here. Amen.

9.Genadige Here,

Soos U die wyse manne na u Seun deur ‘n leidende ster gelei het, lei

ons verder in ons lewens deur hom wie die Lig van die wêreld is,

Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die

heerlikheid, vir ewig. Amen

DIE SONDAE VOOR VASTYD

(Septuagesima, Sexagesima, Quinquagesima)

(die negende, agste en sewende Sondae voor Paasdag)

4.Sing tot eer van die Here, prys sy naam,

verkondig elke dag sy reddingsdade!

Vertel die nasies van sy mag,

al die volke van sy magtige dade.

Die Here is groot,

al die lof kom hom toe.

(Ps. 96:2-4)

6.Almagtige, seënryke God,

Heer en Heerser oor hemel en aarde!

Al u werke loof U oor al u ganse heerskappy.

Met hulle aanbid ons u grootheid en prys ons u krag.

U het in Jesus nader tot ons gekom, en as Vader,

oorvloedig in liefdevolle genade, Uself aan ons geopenbaar.

Met al u losgekooptes in die hemel en op aarde,

vereer ons u liefde, en rus ons in u ontferming.

Alle roem aan U, Here in die hoogste!

Alle prys en eer, deur Jesus Christus, ons Here! Amen.

9. Here God,

deur U lewe ons, beweeg ons, en bestaan ons.

U het ons vir Uself geskape, en in U alleen vind ons rus.

Gee dat ons rein van harte en sterk in voorneme mag wees, sodat

geen selfsugtige begeertes ons sal hinder om u wil te verneem nie,

geen swakhede ons verhoed om u wil te doen nie.

In U lig mag ons lig sien, en in u diens volmaakte Vryheid vind, deur Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. AMEN.

VASTYD

(die sesde, vyfde, vierde en derde Sondae voor Paasdag)

4.Soek die Here terwyl hy nog te vinde is;

Roep hom aan terwyl hy naby is.

Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes;

en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal hy hom barmhartig wees;

en tot onse God want hy vergeef menigvuldiglik. (Jes. 55:6 -7)

6.Almagtige God, ons aanbid u.

Ons is in u teenwoordigheid, omdat U ons geroep het.

In die vreedsaamheid van hierdie dag en die plegtigheid van hierdie tyd,

hier waar ons U so dikwels ontmoet het, en nou weereens met U verenig is, Heer van heerlikheid, loof ons U.

Saam met al wat U op aarde aanbid, saam met die vrygekooptes in die hemele, saam met al wat voor u troon dien, Heer van heerlikheid, loof ons U, deur Jesus Christus, onse Here. Amen.

9.Heilige Vader,

U het nie u eie Seun van beproewing en versoeking vrygestel nie, sodat hy volmaak kon wees deur sy lyding.

Skenk aan ons genade om teen die kwade te stry, om die goeie na te strewe, en ons kruis op te neem en hom te volg, Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

LYDINGS SONDAG

(die tweede Sondag voor paasdag)

4.Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor,

ter wille van ons ongeregtighede is hy verbrysel;

die straf wat vir ons vrede aanbring, was op hom,

en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. (Jes 53:5)

Jesus, vir die vreugde wat hom voorgehou is, het die kruis verdra, die skande verag. (Heb. 12:2)

6Alle lof aan U, Here God, ons hemelse Vader!

Alle heerlikheid aan U! Alle majesteit en mag, aanbidding en heerskappy!

Ons loof U vir u liefde wat u Seun gegee het om vir die verlossing van die wêreld te sterwe.

Ons verbly ons in sy onderdanigheid, deurdat hy die kruis verduur het, en vir die vreugde wat hom voorgehou is, die skande verag het. Vader van alle liefde en krag, ons aanbid U, deur Jesus Christus, onse Here. Amen

9.Here God,

vervang ons lafhartigheid met moed om ons Meester te volg waarookal hy mag lei.

Gee ons genade om die self agter te laat, ons kruis op te neem, en hom te vergesel.

Mag ons onsself verloën ter wille van hom en die Evangelie.

Sodoende sal hy ons veilig behoed, Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

PALMSONDAG

(die Sondag voor Paasdag)

4.Hoor die gejuig

in die laer van die oorwinnaars.

Maak die tempelpoort vir my oop:

EK WIL INGAAN EN DIE HERE LOOF.

(Ps. 118:15,19)

6.Lof en eer aan U, Here God!

U het die heelal geskep; deur u krag onderhou U dit;

vir alles deur U geskape sorg U.

Lof en eer aan U, God, onse Vader! U liefde vir ons is ewigdurend; daarom het U u Seun gestuur om ons te red.

Lof en eer aan U, magtige God! Deur Jesus het U die bose oorwin, die mag van die dood verbreek, en die ewige lewe aan die lig gebring.

Aan U die oorwinning, onse God en aan die Lam! Amen.

9.Almagtige Vader,

soos u Seun hierdie dag Jerusalem binnegegaan het, gee dat hy ook so ons lewe in mag ry

Soos hy die kwaad van die stad teegegaan het, mag hy ook met die kwaad in ons so worstel.

Soos hy met moed sy vyande teengegaan het, help ons om standvastig te staan teen die wêreld se opposisie, en tot die einde getrou bly in die krag van Jesus Christus, onse Here. Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. AMEN

WIT DONDERDAG

(die nag voor Goeie Vrydag)

4.Genadig en barmhartig is die Here.

hy voed dié wat hom dien,

Hy hou sy verbond altyd in stand. (Ps.111:4-5)

6.Ons loof en aanbid U, genadige God.

Dankbaar is ons vir u liefde in Jesus gegee om die wêreld te red.

Verheug is ons omdat hy ons geroep het tot gemeenskap met hom en sy Kerk.

Wyl ons nou in hierdie heilige aand sy tafel nader, vereer ons U in sy naam. Amen.

9.Here God, onse hemelse Vader,

Soos die heilige awendmaal in hierdie nag lank gelede deur u Seun ingestel is, mag ons sy teenwoordigheid kenlik aanvoel in hierdie heilige geheimenis, en met hom gemeenskap hou, wie die Brood van die lewe is, Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

PAASDAG

3.DIE BEGROETING:

Die Here het opgestaan!

Die Here het waarlik opgestaan!

HALLELUJA!

4.Christus is opgewek uit die dood,

as eersteling van dié wat gesterf het.

Aangesien die dood ook deur ‘n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ‘n mens gekom.

Net soos almal deur hul verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. (Kor. 15:20-22)

Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here,

Want hy het magtige dade gedoen,

DEUR SY KRAG EN GODDELIKE MAG HET HY OORWIN.

Die Here het sy oorwinning bekend gemaak, aan die nasies het hy sy reddingsdade geopenbaar. (Ps. 98:1-2)

6.Halleluja!

Lof sonder perke aan U, Here God, onse Vader!

Eer sonder einde word aan U toegesê, hemelse Koning!

Met groot krag het U Jesus uit die dood teruggebring. Deur u grootste weldaad het U ons uit die hand van die vyand verlos. Op hierdie dag van alle dae jubel ons in u oorwinning met ‘n vreugde onuitspreeklik.

Met die Kerk deur die ganse wêreld, verenig ons om U te loof en te prys.

Met die Kerk in die hemel roep ons uit: “Aan U die oorwinning, onse God, en aan die Lam!”

Halleluja! Halleluja!

Lof sonder perke, eer sonder einde, kom U toe in ewigheid, God en Vader van Jesus Christus, ons verrese Here!

HALLELUJA! HALLELUJA! HALLELUJA!

9.Almagtige en genadige Here God,

Deur die opwekking van u Seun het U die dood en die bose oorwin.

Mag ons, wat in sy opstanding juig, vir die sonde sterf, en die ewige lewe beërf, deur hom wat die opstanding en die lewe is, Jesus Christus, ons verrese Heiland, wat met U en die Heilige Gees leef en regeer, een God, tot in alle ewigheid. Amen.

PAASTYD

(die vyfde Sondag na paasdag)

4.Aangesien julle saam met Christus

Uit die dood opgewek is, moet julle sterwe na die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. (Kol. 3:1-3)

6.Alle lof, alle heerlikheid kom aan U toe, magtige Here!

Deur u grote mag het U u seun uit die dood opgehef.

Deur u sterke hand het U ons en u ganse skepping verlos.

In u grote ontferming het U ons opnuut gebore tot ‘n lewende hoop.

Ons seën U, ons aanbid U; ons vereer U, onse Vader en onse God. Met die hele Kerk op aarde, met die hele geselskap in die hemel, verheerlik ons U, deur Jesus Christus, onse verrese Here. Amen.

9.Here God, hemelse Vader,

Terwyl ons jubel in die opstanding van u Seun, verlos ons van gebondenheid aan die sonde, en bring ons tot die volheid van die ewige lewe in Jesus Christus, onse Here, wat met U en die Heilige Gees leef en regeer, een God, tot in alle ewigheid. Amen.

HEMELVAARTSTYD

(Hemelvaartsdag en die Sondag daarna)

4.Laat die hemele bly wees en die aarde juig,

en laat hulle onder die volke sê:

Die Here is Koning ! (Kron. 16:31)

Verbly julle, poorte, wees bly, eeue-oue deure.

WANT DIE MAGTIGE KONING WIL INGAAN! (Ps. 24:7)

God gaan op onder gejubel,

die Here gaan op onder basuingeskal. (Ps. 47:6)

6. Lof aan U, Here God, ons Vader!

U het u Seun uit die dood teruggebring, en hom tot die hoogstes verhef.

U het hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen die knie sou buig, en elke tong sal bely dat hy Here is.

Tesame met al die verlostes in die hemel, wat voor troon staan en van die oorwinning van u grote mag sing;

tesame met u Kerk dwarsoor die wêreld, wat in die geloof in U opgevare Seun lewe, verheerlik ons U groot en glorieryke God.

Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan U tot alle ewigheid! Amen.

9.Here, onse God,

deur sy glorieryke hemelvaart het u Seun vir ons ‘n weg na die allerheiligste geopen. Mag ons ook geestelik verhef word tot daardie ryk waar hy aan U regterhand sit, Jesus Christus, ons opgevare Here, wat met U en die Heilige Gees leef en regeer, een God, tot in alle ewigheid. Amen.

PINKSTERDAG

4.Die tyd nader – trouens, dit is reeds al hier – wanneer alle ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid. Sulke aanbidders wil die Vader graag hê.

God is gees, en diegene wat hom wil aanbid moet hom in gees en waarheid aanbid. (Joh. 4:33-34)

6.Eer aan U, Here God!

U roep ons om U in gees en in waarheid te aanbid.

Eer aan U hemelse Vader!

U skenk die Heilige Gees aan almal wat vra, en seën hulle met sy krag.

Eer aan U, onse Skepper en ons Koning! U plaas u seël op ons en bevestig daarmee dat ons u eiendom is, en as waarborg van wat U vir ons belowe het.

Skenk U ons u Gees om in ons harte te woon.

Met die ganse Kerk op aarde en in die hemel loof ons U, vereer ons U, verheerlik ons U, en sê dankie vir die Heilige Gees, in die naam van Jesus Christus, onse Here. Amen.

9.Here God,

op hierdie Pinksterdag jubel ons in die gawe van die Heilige Gees.

Mag hy die dryfkrag in ons lewens word, wat ons ywer sal laat vlam vat sodat ons wonderlike drome van u koninkryk sal droom; wat ons die moed en die krag sal gee om ons drome te verwesenlik, deur Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

DRIEËENHEIDSONDAG

(die Eerste Sondag na Pinksterdag)

4.Heilig, heilig, heilig,

is die Here God, die Almagtige,

hy wat was en wat is en wat kom. (Op. 4:8)

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!

Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

Uit hom en deur hom en tot hom is alle dinge.

Aan hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! (Rom. 11:33,36)

6.Glorieryke Here God, die Vader!

U het ons geskape; U sorg vir ons.

Glorieryke Here God, die Seun! U het ons verlos.

Glorieryke Here God, die Heilige Gees!

U lei ons die volle waarheid in.

Soos U geloof was sedert die begin van tyd, soos U nou geëer word, soos U ook aanbid sal word tot in ewigheid, alle roem aan U, Vader, Seun en Heilige Gees, Drie-in-Een, Een-in-Drie! Amen.

9.Glorieryke en almagtige God,

U het Uself bekendgestel as Vader, Seun en Heilige Gees.

Help ons om van u vaderlike liefde meer versekerd te wees, om ons aan die aansprake van u goedgunstige eise oor te gee, en U toe te laat om ons te hervorm totdat ons aan die beeld van Christus gelyk is; en mag ons lewens u heerlikheid weerspieël, salig, heilige, drieënige God. Amen.

DIE HERDENKING VAN ALLE HEILIGES

(1 November of die Sondag daarna)

4.Die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang,

en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in alle ewigheid. (Dan. 7:18)

Sing tot eer van die Here

julle wat hom getrou dien,

loof sy heilige naam! (Ps. 30:5)

6. Alle lof aan U, magtige Here God!

U volk in die hemel en op aarde aanbid U en verkondig u grootheid.

Met almal in die hemel wat die lied van Moses en die Lam sing, met almal dwarsoor die wêreld wat jubel in u magtige verlossing, vereer ons U, bring ons hulle aan U, die Koning van alle tye, deur Jesus Christus, onse Here. Amen.

9.God, onse Vader,

Met so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons soos ‘n wolk, help ons om ons lewens aan U te wy,

Om elke las van ons af te gooi,

En ook die sonde wat ons so maklik verstrik,

En laat ons die wedloop wat ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

DIE SONDAG VOOR ADVENT

(die vyfde Sondag voor Kersdag)

(kan ook vir Nagwaakdiens gebruik word)

4.Dink aan die dae van die ou tyd,

Let op die jare van geslag tot geslag;

Vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak;

Die ou mense, dat hulle jou dit sê. (Deut. 32:7)

Ek wil die Here loof,

Met alles wat in my is, wil ek sy heilige naam loof.

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. (Ps. 103:1-2)

6.Magtige Here God, u ganse skepping aanbid U:

die hemel en aarde, die see en die lug verkondig die heerlikheid van u mag dwarsdeur die tallose eeue, in die wyd-verspreide hemelruim.

Hier in die wêreld word die wonder van u beskermende besorgheid en u ongelooflike liefde vir al u mense van een geslag na die ander oorgedra.

As deel van u skepping, as diegene vir wie U lief het en red, verheerlik ons U, ons Vader en onse God, deur Jesus Christus, onse Here. Amen.

9.Here God van hierdie en elke tydsvak,

soos U hierdie jaar met ons begin het, ons dwarsdeur geseën het, en ons aan die einde daarvan gebring het, help ons, te midde van alle geleenthede en gebeurlikhede, om ons vertroue op U te plaas, en ons lewensreis voort te sit in die krag van u Seun, wat belowe het om saam met ons te wees, al die dae, tot aan die voleindig – Jesus Christus, onse Here. Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

KERKVERJAARSDAG

4.Die Here is groot, alle lof kom hom toe,

Sy grootheid is ondeurgrondelik.

Geslag na geslag prys wat hy doen

En vertel van sy magtige dade.

Sonder ophou moet hulle sy groot goedheid verkondig

En oor sy reddingsdade jubel. (Ps. 145:3,4,7)

6.Groot en glorieryke God,

U het u Seun, Jesus Christus, geskenk om Hoof van die Kerk te wees.

In sy naam aanbid en vereer ons U.

Met elke deel van u skepping, met u ganse volk op aarde, met diegene van hierdie gemeente wat ons voorafgegaan het, en met al u heiliges in die hemel, loof ons U

Eer aan U, magtige Here God!

Eer aan U op hierdie ons verjaarsdag!

Eer aan u elke dag! Eer aan U tot in ewigheid, deur Jesus Christus, onse Here! Amen.

9.Almagtige God,

U het ons tot hierdie verjaarsdag gebring.

Wyl ons hulde aan U bring dat U ons geroep het om u volk hier te wees, bid ons dat u Gees ons langs u weë sal lei, en ons in staat stel om onsself aan U te offer – ‘n toegewyde offergawe wat vir U aanneemlik is, deur Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

OESTYD

DANKSEGGING

4.God sê:

Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie. (Gen. 8:22)

Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; hy het vir julle volop kos gegee, en julle gelukkig gemaak. (Hand 14:17)

Julle moet die Here loof vir sy troue liefde,

vir sy wonderdade wat hy aan mense doen.

Hy het die dors geles van dié wat honger gely het, hy het die goeie in oorvloed gegee aan dié wat honger gely het. (Ps. 107:8-9)

6.Here, onse God genadige hemelse Vader,

So groot, so goed, so getrou aan al u beloftes!

U het ons weer tot by oestyd gebring, en uit harte met dankbaarheid gevul loof ons U.

Hoe talryk u werke, Heer! In wysheid het U alles gemaak;

die aarde is gevul met u rykdom.

U sorg vir al wat U geskep het. Hulle sien op na U om hulle van voedsel te voorsien.

U maak u hand oop, en versadig alles wat lewe.

U maak hierdie wêreld so lief dat U u enigste Seun geskenk het, die

Brood vanuit die hemel, om ons gees met die ewige lewe te voed.

Ons vereer U, Vader van alle goedheid.

Ons loof u naam, Here God van ouds.

Van elke deel van u skepping, van u vrygekoopte volk in die hemel en op die aarde, alle eer aan U, alle mag en glorie, vandag en tot in alle ewigheid, Amen.

9.Hemelse Vader,

U voorsien in al ons behoeftes.

Help ons om in eenvoudige geloof voor te leef dat U sal aanhou om vir ons uit u ryk bronne te sorg.

Verlos ons daarvan om behep te wees met die begeerte om aardse skatte op te gaar ten koste van ons geestelike welvaart. Voed ons gedurigdeur met die Brood van die lewe, sodat ons in Jesus Christus, ons Here, mag groei en ryp word.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig.

Amen.

HERVORMINGSONDAG

(31 Oktober of die vorige Sondag)

4. God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming;

Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

Die Here, die Almagtige, is by ons,

Die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting. (Ps. 46:2,8)

6.Groot en glorieryke God, ons aanbid en loof U.

U woord het alles in die hemel en op die aarde geskep.

Op wonderbaarlike wyse hernu u woord alles wat U gemaak het.

U woord roep ons vandag om U te prys en te dien.

Blymoediglik beantwoord ons, verheug in u openbaring deur u vleesgeworde Woord, dankbaar vir die liefde wat U deur hom aan ons bied.

Alle eer aan U, almagtige God,

Deur Jesus, onse Here. Amen

9.Here God,

Gee ons so ‘n geloof in u vergewende liefde dat ons deur hierdie geloof geregverdig mag word.

Werk aan ons deur u heilige Gees dat ons dag vir dag hernu mag word, en in goddelikheid groei totdat ons die volle gestalte van Jesus Christus, onse Here, bereik het.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

DIE OPENINGSDIENS

van

ASSEMBLY OF STREEKSRAAD

4. Die Here is groot, alle lof kom hom toe.

Sy grootheid is ondeurgrondelik.

Geslag na geslag prys wat hy doen

En vertel van sy magtige dade.

Sonder ophou moet hulle sy groot goedheid verkondig

En oor sy reddingsdade jubel. (Ps. 145:3, 4, 7)

6.Groot en glorieryke God,

U het u Seun, Jesus Christus, geskenk om Hoof van die Kerk te wees.

In sy naam aanbid en vereer ons U.

Met elke deel van u skepping, met u ganse volk op aarde, met diegene van hierdie Kerk wat ons voorafgegeaan het, en met al u heiliges in hemel, loof ons U.

Eer aan U, magtige Here God!

Eer aan U in hierdie vergadering van u volk!

Eer aan U tot in ewigheid, deur Jesus Christus, onse Here! Amen

9.Almagtige God,

U het ons opgeroep om met U te beraadslag oor die dinge van u koninkryk.

Wyl ons hulde aan U bring dat U ons geroep het om u volk te wees, bid ons dat u Gees ons langs u weë sal lei, en ons in staat stel om onsself aan U te offer – toegewyde offergawe wat vir U aanneemlik is, deur Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewig. Amen.

DIE AFSLUITINGSDIENS

van

ASSEMBLY of STREEKSRAAD

4.Hier het ons geen vaste verblyfplek nie, maar ons is op soek na die toekomstige stad.

Deur Jesus laat ons dan onophoudelik aan God ‘n offer van lof bring.

Eer aan hom tot in ewigheid! (Heb. 13:14-15)

6.Mees genadige God, ons loof U

Vir Jesus Christus, die Hoof en Koning van die Kerk,

Aan wie ons hoort, en vir wie ons dien, en vir die Heilige Gees, wat ons beraadslagings gelei en beheer het.

Nou loof ons U dat, voordat ons van mekaar skei, U ons geroep het na die fees van u Seun se dood en opstanding.

Hier aan sy heilige tafel vereer ons U, onse Vader en onse God, in sy geseënde naam. Amen.

9.Almagtige God,

Besvestig en bekragtig ons in alles wat goed is, en bewaar ons vir die ewige lewe;

Deur Jesus Christus, onse Here.

Aan hom, met U en die Heilige Gees, een God, sy al die heerlikheid, vir ewige. Amen.

DIE

BEGRAFNISDIENS

IN DIE KERK

1. OPENINGSREDE

EEN van die volgende kan gebruik word:

(A) Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die

ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die

ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus

gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons dat God saam met

Jesus die ontslapenes wat in hom geglo het, na hom toe sal neem.

(Tess. 4:13-14)

Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. (1Kor. 5:1)

As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. (1 Rom. 14:8-9)

OF

(B) Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. (Matt. 5:4)

Wees nie bevrees nie, want ek is met jou;

kyk nie angstig rond nie, want ek is jou God.

Ek versterk jou, ook help ek jou,

ook ondersteun ek jou met my reddende regterhand. (Jes. 41:10)

God is nie ‘n God van dooies nie maar van lewendes. (Mark. 12:27)

Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe. “Ja,” sê die Gees,

“hulle sal rus van hulle arbeid.” (Op. 14:13)

Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens,

hy het vir hulle ‘n stad gereed gemaak.

OF

(C) Die Here Jesus sê: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo

ook in my. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was

nie