Upload
others
View
1
Download
0
Embed Size (px)
Citation preview
Hebr.13:12-14
Judika 6 April 2014
10. Ons het ’n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om
te eet nie. Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die
sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand.
12 Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoorte gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde
te reinig. Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het,
want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.
15 Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring
word deur die lippe wat sy Naam bely.
Liewe gemeente,
Twee jaar gelede was die leuse vir die jaar uit hierdie verse geneem: ons het in hierdie wêreld geen
vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.
Ons het gepraat dat ons identiteit telkens bepaal word deur ons toekomsverwagting. Wat jy hoop,
bepaal jou optrede; waarna jy uitsien (de)motiveer jou. Waarna jy strewe, vind beslag in jou prioriteite.
Die skrywer van die Hebreërbrief moedig hier medeChristene aan: wees sterk in die geloof want die
toekoms is op hande. Weet dat die rooi mat na die hemel reeds vir julle oopgerol is. Terwyl julle dan
amper die doel bereik het, moenie julle van stryk af bring nie! Hoe moed! Al moet julle tans nog ’n
rukkie lyding verduur. Hou mekaar se hande, al gaan dit tans in ’n vyandige omgewing swaar. En
veral: hou jou oë op Jesus – die begin en voleinding van julle geloof, julle hoop, ja julle hele lewens.
En met hierdie woorde lei ons ook vandag se besinning in: hou jou oë op Jesus! Maar hoe doen ons dit?
Wel, in die verlede het ons al ’n paar keer genoem: dit heel eenvoudig – jy neem die Bybel op en begin
lees. En soos jy lees, sien jy wat geskryf staan en begin jou gedagtes ’n beeld vorm van wie en wat
Jesus eintlik was. Die skrywer hier, verduidelik oa: Jesus is die Ene wat ons vooruitgegaan het; ons
volg Hom. Wie is Jesus en waarheen het Hy vooruitgegaan?
Laat my toe om ook nog ’n prente te wys om ons voorstelling bietjie aan te help, want dis nie altyd
maklik om by die leefwêreld van die Bybel aan te sluit nie. (Sien prente heel onder bladsy vir bladsy)
(1) Die eerste prent wys vir ons die pad uit Egipte na die beloofde land. En die gedagte hier is: die
gemeente van Jesus Christus is soos die wandelnde volk Israel destyds – deur die woestyn op
pad na die beloofde land.
(2) En terwyl jy op pad is, bou ’n mens nie vaste strukture nie. Hier is ’n tent op die foto. Die groot
aantal mense het almal in tente gebly wat maklik opgerig en afgebreek kan word. Só, redeneer die
skrywer aan die Hebreërs, moet julle self nie te vas in hierdie wêreld inrig nie. Julle aardse tent /
woning / liggaam gaan eendag afgebreek word; julle werk / beroep / bedrywighede sal tot ’n einde
kom; moenie julle self aan aardse dinge uitlewer nie want ons soek die toekomsigte, die vaste, die
ewige tuiste.
(3) Maar daar was een besondere tent tussen al die ander – dit was die teken van God se
teenwoordigheid. Die tent met die verbondsark. Telkens wanneer Israel kamp opslaan, moes
hierdie struktuur in plek gesit word, en wanneer hulle verder trek, het hulle alles weer afgebreek en
uitverkore persone moes die tentmateriaal en veral dan die verbondsark saam gedra het.
(4) Reeds die eerste voorskrifte het uitgewys dat daar drie gedeeltes van die tent is: die voorhof, waar
die groot altaar ook gestaan het en waarop offers van die volk verbrand is, dan die tent met sy
heilige en allerheiligste gedeelte. In die allerheiligste gedeelte het die verbondsark gestaan waar
geen gewone persoon mag ingegaan het nie. Slegs die priester (later die hoëpriester) mag in die
onmiddelike omgewing van God beweeg het.
(5) Nou lees ons ook in die Bybel, dat die eerste sowel as die tweede tempel in Jerusalem op dieselfde
beginsel uitgelê was. Daar was as sentrale fokus-punt die allerheiligste, waar die verbondsark
gestaan het. Dan was daar die heilige gedeelte waar ook ’n kleinerige altaar gestaan het waar
brandoffers en rookoffers gebring was. Slegs mans mag in hierdie gedeelte ingegaan het vir
besondere eredienste. En dan die voorhof waar gewoonlik die volk bymekaar kon kom en die
gewone eredienste met die volk plaasgevind het.
(6) Hier het ons nog ’n prent van die tweede tempel (Herodes se tempel). Die model is ietwat
onvolledig want ons mis hier nog enkele ander altare waar die gewone mense offers heen gebring
het.
Hou asseblief in gedagte dat dit die leefwêreld was van die destydse leser van die Hebreërbrief.
Hierdie tempel was sentraal in Jerusalem, in die gedagtewêreld van die hele volk Israel wat in
Palestina sowel as die volk wat in die hele wêreld geleef het. Ten mindste een keer ’n jaar het hulle
gepoog om na Jerusalem toe te gaan – óf vir die lofhutfees, óf vir die groot versoenningsdag of
Pasga-fees, óf dan vir ander feeste.
(7) Telkens wanneer daar diere geoffer was, moes die ingewande en alle gedeelte wat onbruikbaar
was, buite die stad geneem word om dáár verbrand te word. (op die foto sien ons dat ook sommige
offers in geheel buitekant die stadspoorte gebring is; die skrywer wil veral daarop attend maak dat
die afval buitekant die stadspoorte geneem is)
Nou op die groot versoenningsdag het daar iets besonders plaasgevind. Die een gebeure is dat ’n
skaap, ’n ram geneem is, priesters het hulle hande op sy hoof gelê om op simboliese manier die
sondes van die volk op die ram oor te dra, en daardie ram is in die woestyn in gejaag waar dit
vergaan het. Dit was een manier hoe die sondes van die volk uit hulle midde weggeneem is.
Die ander gebeure is dat ’n perfekte lam geslag is. Van daardie bloed is in ’n bak opgevang en aan
die hoëpriester oorhandig.
(8) Die hoëpriester het daardie bak in die tempel ingeneem en saam in die heiligste en allerheiligste
gedeelte ingeneem.
(9) Van die bloed is dan op die verbondsark besprinkel. Die bloed van die lam verteenwoordig die
lewe van die mense. Met ander woorde, die lewe word opgeoffer en aan God gewy. Hierdie
handeling het God dan aangesien as versoening vir die volk. Die sondes is weggeneem, en God en
die volk behoort weer bymekaar. Dit was deel van die verbond tussen God en die uitverkore Israel
in die ou verbond.
Die skrywer aan die Hebreërbrief voeg nou by: Jesus Christus is ons Hoëpriester! Hy staan vir ons
in by God die Vader. Hy is die Ene wat die offer bring wat werklik versoening gebring het vir alle
tye. Terwyl aardse Priesters onvolmaakte mense was, was Jesus Christus die perfekte Hoëpriester.
En terwyl aardse offers telkens herhaal moes word, was Jesus se offer van só ’n kwaltietit dat dit
die sondes van alle mense vir alle tye kan versoen.
[Tussenopmerking: nie alle vergelykings staan 100% in die verhouding een-tot-een nie. Sommige gebruike en
handelinge van die ou bedeling (die Ou Testament) vloei ineen. Dis ook nie maklik om altyd te volg dat
byvoorbeeld die priesterfunksie op Jesus oorgedra word, maar by die volgende vergelyking is Jesus ook die
offer(lam). Nietemin word hierdie beelde vir ons gegee om te verstaan.]
(10) Sien julle, liewe gemeente, hoe hierdie bekende beeld nou oorgedra en van toepassing gemaak
word op Jesus. Hy is nie net die Hoëpriester nie, maar Hy is ook die offer wat gebring is. Daar op
Golgota is Hyself geoffer. Hy is die ram op wie al die sondes van alle mense van alle tye geplaas is.
Goed en wel, Hy is nou nie soos die een ram op die versoeningsdag die woestyn ingejaag nie, maar
Hy is (in hierdie geval) die lam wat geslag is. Gespyker aan die kruis boet Hý vir die sondes van
mense. Ja, waar God toornig oor sonde en oortreding was, waar God die lewe van enige oortreder
eis, eis God die straf van Homself in Jesus Christus. Nou is daar weer vrede tussen God en
mense en mag ons met alle vrymoedigheid God nader.
(11) Hier het ons nog ’n prent van ’n kunstenaar waar dit reeds duidelik word dat hierdie offer op
Golgota terselfdertyd in die hemel in reik. Die kruis staan nie slegs op aarde nie, maar dit het
kosmiese implikasies. Hier op Golgota het ons dit tergelyk te doen met wat in die hemel aangaan.
Wat op ’n spesifieke tyd (2000 jaar gelede), op ’n spesifieke plek (buite die stadspoorte van
Jerusalem) plaasgevind het, het terselfdertyd universiële implikasies, en dit is geldig vir alle tye.
(12) Ook in die hemel, sê die skrywer, bestaan daar ’n hemelse tempel, en daar staan daar ’n altaar,
en dit is Christus wat hierdie trappe na die altaar toe gestap het as die perfekte lam van God, en
Homself as offer daar gegee het. God se oordele is tydloos: wanneer Hy iemand verdoem, is die
persoon vir alle tye verdoem; en wanneer God iemand vryspreek, is die persoon vir alle tye
vrygespreek.
(13) Jesus Christus, die lam van God, is waardig om alle eer en aanbidding te ontvang. Hier sien ons
’n toneel uit die boek Openbaring waar die 24 ouderlinge rondom die troon byeenkom, en die Lam
van God is waardig om op die troon te sit. Hy is dié Ene aan wie alle mag in die hemel en op aarde
gegee is.
[Ons het al dikwels na die erediens verwys. Ons liturgie is spesifiek só ontwerp en die bewoording
so gekies dat die eenheid met alle Chrsitene op aarde uitgelig word, sowel as die eenheid met die
hemelse erediens. In Opb.4 lees ons van die ewig voortdurende erediens wat nimmereindigen aan
die gang is. Ons erediens hier sluit aan by daardie hemelse heerlikheid; ons gesange val in by die
hemelse gesange; ons musiek is ‘n eggo van die hemelse gebeure. Wanneer ons in die
nagmaalsliturgie byvoorbeeld sing: Verhef tot God u harte - ons verhef hulle tot die Here; en laat
ook ons stemme met die serafs na U toe kom en sonder einde lofsing: Heilig, heilig, heilig is die
Heer... dan wil val ons in by die oneindige aanbidding en lofprysing. Hierdie twee parallele dienste
is dus nie los van mekar nie, maar ’n weerspeeling en tog ook verwewing van mekaar / inmekaar
gevleg.]
Sien ons, liewe gemeente, hoe die skrywer aan die Hebreërs ons wil aanmoedig. Hy open vir ons
die horison na die verlede en na die toekoms. Hy verwys na die grbuike van die ou tyd en beskryf in
delikate terme dat in Jesus Christus al daardie verwagtinge van die verlede nou in Jesus hulle
vervulling vind. Jesus Christis is ons verlossing, ons lewe en ons hoop. Hierdie toneel in die hemel
is egter nie iets wat nog gaan kom nie – dit is nou reeds teenswoordige werklikheid. Christus is
reeds verheerlik en sit op die troon van waar Hy weer sal kom, om ons (wat nog in die
teenwoordige tyd lyding verduur) na Hom toe, huis toe te neem.
(14) Daarom: sien op na HOM, die begin en die voleinding van julle geloof.
Waarom skryf die Hebreër dit aan die gemeente? Ons is met hoofstuk 13 by die laaste hoofstuk.
Hebreërs is besig met sy laaste vermaaninge en vertroostinge. Dit word duidelik dat die gemeente
destyds moeg geraak het in die geloof. Sommiges het van die geloof heeltemal afgedwaal, ander
het begin om die eredienste te verwaarloos en wanneer vervolging of beproewing kom, het lede nie
meer kaans gesien om tot die dood toe te volhard nie.
Nog een keer verwys hy na dit wat hy 12 hoofstukke lank verduidelik het en maak nou ’n paar
gevolgtrekkings:
Terwyl julle dan deur swaarky moet gaan, terwyl mense julle vervolg en daar baie lyding is, rig jou
oë op Jesus. Kyk wat het met Hom gebeur. Hy is net so gemartel. En Hy is deur daardie beproewing
sodat Hy presies kan verstaan deur watter beproewing ons deurgaan. Hy sal ons daarom ook op die
regte manier kan vertroos en met sy hemelse kragte vul.
Liewe gemeente, eien dit toe, terwyl jy deur aanvegtinge gaan, terwyl met mense praat wat nie
meer hulle pyn kan verdra nie, wat nie meer kaans vir die lewe sien nie: Hy is nie ’n God daar ver
weg en onbetrokke nie, maar ene wat self daardeur gegaan het, en medelye het, en verstaan
en krag gee wat alle verstand te bowe gaan.
Die tweede laaste gedagte: En moenie meen, jou opofferings beteken niks nie. Nee, ook jou
insette, opofferings, lyding en beproewing is van die allerhoogste waarde. Dit is mos nie slegs jy
wat swaarkry nie, maar deur jou lyding, ly ook Christus saam met jou. Daarom mag jy ook weet dat
ook Christus se heerlikheid vir jou bedoel is. Die heerlikheid is nie slegs vir Christus bestem nie,
maar vir jou. En daar sal oomblikke wees wanneer ook vir jou die horison geopen word.
En laat ons onopoudelik God ’n offer bring wat vir Hom aangenaam is. Nie meer die
opstygende rook van offervleis sal die Here verbly nie, maar die lofgesange wat na die
hemelruimte opstyg. Nie meer nakoming van die wet en alle voorskrifte maak my voor God
aangenaam nie, maar juis omdat ek oneindig bemind is, juis omdat ek reeds in God se heerlike
tempel opgeneem is, kan ek op aarde God se heil uitleef (soos die wet dit voorkskryf). Nie meer die
bewondering van mense gee my die versekering dat ook God my bewonder nie, maar die voorreg
om saam met Christus te ly geem my die versekering dat ek ook saam met Hom sal opstaan.
(15) En nou die laaste gedagte: moenie jouself vaskyk in die teenswoordige tyd nie. Hierdie tyd gaan
verby, maar vir jou en my wat met Christus verbind is, vir ons is die hemel reeds geopen. Hier
kunstenaar wou vir ons ook net so ’n voorsmaakie gee van wat ook die skrywer aan die Hebreërs
wou doen. Ons is op pad na die beloofde land, na die hemelse heerlikheid.
Ja, mag hierdie voorbereidende paastyd, die vastydperk ons lei tot innige vroomheid en gemeenskap
met ons Here Jesus Christus.
Aan Hom wat leer en regeer in alle ewigheid kom alle lof, eer en aanbidding toe van nou tot in
ewigheid. Amen.
1
2
3
7 + 8
9
10 (Jesus word buite die stadsmure geoffer)
(volgende bladsy 11 + 13) (12 is uitgelos)
14 Daarom ...
15 Kunstenaar se voorstelling van alle hemelse leërskare en uitverkorenes wat rondom die troon byeenkom:
Heilig, heilig, heilig is die God Sebaot ...
Amen.
U angs en worstelinge,
u duisend martelinge,
u sterwe aan die kruis
verwerf vir my daar bowe
waar ek U ewig lowe,
’n rusplek in die vaderhuis.